Strewe VLU leer meer van Akriliese Verfgiet tegnieke
Strewe VLU se vergadering van 11 Mei in die Sentrum Boeresaal was weereens baie goed ondersteun en in ’n gesellige atmosfeer kon die dames meer leer hoe om jou eie gietskildery met akriliese verf te doen.
Die dames van hul buurtak, Steenbokpan VLU, het die dag as gaste van Strewe heerlik saamgekuier. Nog ’n gas van een van die ander takke, Gerda Smith van Zonneblom-tak in die Koedoeskopomgewing, het die Akriliese gietverf tegniek-demonstrasie gelewer.
Een van Strewe se lede, Margie Smith het tydens die vergadering haar 5-jaar lidmaatskapknopie ontvang. Karin Pieterse ontvang ’n sertifikaat vir die hoogste punte vir haar Hardlager-lap, ’n kompetisiestuk wat vir die afgelope Kongres ingedien is.
Die Akriliese giet-skildery, waar verskillende kleure verf saam met ’n vloei-medium op ’n behandelde doek ‘gegiet’ word, het heelwat belangstelling uitgelok. Verskeie effekte word verkry deur die doek te tilt om die verf in ’n sekere rigting te laat vloei of dit kan met behulp van ’n strooitjie of haardroër geblaas word in ’n patroon wat jy verlang.
Die dames is nou vuur en vlam om hul eie ‘giet-skilderye’ te maak wat as werkstuk tydens die volgende kongres ingehandig moet word.
Die VLU is ’n opvoedkundige organisasie wat aan die volwasse vrou die geleentheid bied om ’n bydrae te lewer en daardeur ’n belangrike rol te speel in die omgewing waarin hulle bly en leef. Onderrig en opleiding word tydens die maandelikse byeenkomste en vergaderings aangebied in verskeie vertakkings van landbou, tuinbou, aktuele sake, kreatiwiteit, gesondheid, opvoeding en kultuur. Die items wat vir kompetisies voorgelê word sluit in verskeie hand-, kuns-. naaldwerk en gebakte artikels in.
VLU Strewe speel ’n belangrike rol om hul lede in staat te stel om doeltreffend deel te neem aan die landelike en algemene gemeenskapslewe, die ontwikkeling daarvan en die oordra daarvan aan andere.
Lidmaatskap is oop vir persone bo 16 jaar woonagtig in die Limpopo Provinsie, wat bereid is om hulle aan die bepalings van die grondwet van die organisasie te onderwerp.
Indien u belangstel om aan te sluit en meer inligting hieroor wil ontvang, skakel gerus vir Ilna Schutte, skakelbeampte, by 082 774 8803.
Hooffoto: VLU Strewe lede saam met al die gaste wat die dag saam met hulle geniet het.