Vragmotor vlieg in stukke oor treinspoor: Drywer en passasier slegs lig beseer
’n Vragmotor met sy twee vragwaens het in stukke opgebreek nadat dit teen volle vaart die treinspoor by die T-aansluiting van die Lephalale-pad met Warmbadweg in Thabazimbi getref het. Een van die vraghouers en die kajuit het as gevolg van die geweldige impak aan die ander kant van die spoor in Stasiestraat beland.
Die ongeluk het omstreeks 11:30 op Maandag 28 Desember 2020 by aansluiting by die Junction Winkelsentrum gebeur.
Die SAPD se Lt Kol Mamphaswa Seabi het aan Kwêvoël gesê dat volgens die verklaring van die bestuurder van die vragmotor het hy versuim het om by die aansluiting te stop en toe oor die stopteken gery. By die treinspoor het hy gedraai waarna die voertuig die oorhoofse elektriese treinkabels getref het.
Alhoewel die kajuit op sy eie sowat 15m ver gevlieg het voordat dit teen ’n boom tot stilstand gekom het, het beide die bestuurder en sy passasier slegs ligte beserings opgedoen. Die twee beseerdes is vir behandeling na die hospitaal geneem waarna hulle ontslaan is, het Seabi genoem.
Stasiestraat, wat parallel met Warmbadweg aan die ander kant van die treinspoor loop, was vir twee dae gesluit terwyl opruimingswerk gedoen is.
Kragkabels het die wêreld vol gelê nadat die vlieënde wrakstukke ook ’n kragpaal aan die oorkant van die spoor getref het wat grootskaalse kragonderbrekings in verskeie dele van die dorp tot gevolg gehad het.
Dit was slegs blote geluk en die feit dat besighede vir die Feestyd gesluit was dat geen ander voertuie deur die voortsnellende vragmotor getref is nie aangesien hierdie aansluiting teen middag-etensuur redelik besig kan raak.
Die impak van die ongeluk was so erg dat beide die vraghouers asook die kajuit van die trekeenheid van hul onderskeie onderstelle losgebreek het en elk sy eie rigting op en oor die sowat 5m hoë wal en treinspoor gevind het. Die vraghouer van die een sleepwa het op die trajek te lande gekom terwyl die ander een met ’n groot gedeelte van sy vrag nog in die bak in Stasiestraat gelê het. Die kajuit het teen ’n boom aan die oorkant van Stasiestraat tot stilstand gekom.
Groot skade is ook aan die oorhoofse treinkabels en ’n spoorweg-kragpaal langs die trajek aangerig.
Die vragmotor het blykbaar, net soos die twee soortgelyke ongelukke wat binne die bestek van een week, van 8 tot 12 April 2019, by hierdie aansluiting plaasgevind het, ook Natrium-as vanaf Botswana vervoer. Natrium-as word gebruik in die vervaardiging van korrel-chloor wat onder andere in swembaddens gebruik word.
Een van Kwêvoël se vroeë beriggewings oor hierdie ongelukke was op 4 Maart 2010 toe daar berig is oor ’n vragmotor nie betyds by hierdie T-aansluiting kon stop nie en die aansluiting versper toe dit gerol en op sy kant beland het. Dié ongeluk het die oggend om 03:45 gebeur terwyl daar min verkeer op die pad is. Dit is dieselfde jaar gevolg deur nog ‘n ongeluk op 10 September. (Sien by RELATED onder hierdie berig)
Sedertdien het daar reeds tientalle ongelukke plaasgevind waar weghol-vragmotors oor die aansluiting skiet en op die spoor of op hul kant op die aansluiting of langs die spoor tot stilstand kom.
In nog ’n ongeluk die oggend van 2 Augustus 2018 het ’n weghol-vragmotor oor die aansluiting gery en die agterkant van ’n skoolbus getref wat vanaf Amandelbult met leerlinge na Hoërskool Frikkie Meyer op pad was.
Gelukkig is niemand ernstig in hierdie ongeluk beseer nie. Indien die bus ’n paar sekondes later in die aansluiting was, sou dit ’n ramp gewees het.
(Foto’s: TLM Facebook)