Business

Covid-19: Eenmansake bly aan die agterspeen suig

Die Demokratiese Alliansie (DA) versoek die Minister van Kleinsake-ontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, om dringend in te gryp en bystand te bied aan eenmansake.

Eenmansake is steeds in die duister oor die prosedure om aansoek te doen vir finansiële bystand en noodsaaklike dienste-permitte gedurende die Covid-19 grendeltydperk.

Volgens Henro Krüger, DA – LP en Lid van die Portefeuljekomitee oor Kleinsake-ontwikkeling, het dit nog nooit so broekskeur gegaan met sakelui in Suid Afrika nie. Soveel te meer met eenmansake wat hul brood en botter verdien deur hul sakebedrywighede anders as die formele sektor te behartig.

Sakebedrywighede sluit in makelaars, konsultante, haarkappers, tuis- en ander gebak, motor reparasies, toerleiers, vryskutskrywers, private onderwysers, eetstalletjie-eienaars by kunstefeeste en skoue, verskeie ambagslui, kunstenaars en basies enige bedryf waarin die eienaar ‘n diens of goedere verskaf aan die breë publiek en nie geregistreer is by die Maatskappye en Intellektuele Eiendomskommissie nie.

Sakeondernemings wat in hierdie entiteit handel dryf in Suid-Afrika word gereken op 3 miljoen.

Net soos enige ander entrepreneur is eenmansake se eienaars afhanklik van die staat om die wa deur die drif te trek. Ongelukkig skiet die staat heeltemal te kort wanneer dit by die insluiting vir hulp aan hierdie sakebedrywighede kom.

Die aansoekvorms vir finansiële hulp of ‘n permit om noodsaaklike dienste en goedere te lewer maak doodeenvoudig nie voorsiening vir eenmansake nie. Dit beteken dat die staat 3 miljoen besighede ignoreer en nie omgee wat van die eienaars of hulle werkers in hierdie moeilike tye word nie.

Indien die departement van kleinsake nie daadwerklik en gou optree om hierdie sakeondernemings ten hulp te snel nie, sal miljoene werksgeleenthede in die slag bly.

Die DA sal alles in sy vermoë doen om bevredigende uitkomste te kry vir die bekommerde eienaars van hierdie uiters noodsaaklike sakeondernemings en eis dat dié aangeleentheid dringend aandag moet geniet.