Community

Bekende oud-inwoner skielik ontneem

Een van die groot besproeiingsboere en deel van die destydse Krokodilrivier Studiegroep toe die skema naby Thabazimbi ontwikkel is, Neville Wenhold (69), is Maandag 20 Januarie 2020 oorlede.

Neville is in Harrismith in die Vrystaat gebore. Die gesin, Duits van oorsprong, het hulle in die Duitse gemeenskap van Kroondal naby Rustenburg gevestig waar Neville dan ook grootgeword het.

In 1969 matrikuleer hy aan Rustenburg Ou Hoër waar hy ook hoofseun was.

Hy het homself as onderwyser by die Pretoria Normaalkollege bekwaam en het by Hoërskool Bergsig sy onderwysloopbaan begin.

Neville het die onderwys verlaat om saam met Jerry Penzhorn op Northam te kom boer.

Neville en Elmarie Wenhold. Neville se begafnis is Vrydag 31 Januarie op die familieplaas Buffelsfontein naby Mooinooi.

Gedurende 1977 is hy met Elmarie getroud en hulle het vir haar pa, Cas Riekert, op die familieplaas Buffelsfontein naby Mooinooi, vir ’n tyd geboer. Daarna het hulle hul op die plaas Buffelskraal in die Thabazimbi omgewing gevestig waar hy die boerdery bedryf het. Op ’n later stadium het hulle nader aan die dorp geskuif en hulle op Haakdoorndrift tussen Thabazimbi en Setaria gevestig.

Op daardie stadium is die Koedoeskop besproeiingskema uitgebrei om boere langs die Krokodilrivier nader aan Thabazimbi ook in te skakel.

Die groep boere het hul eie ontspanningsgeriewe, insluitend ’n klubhuis en muurbalbaan op Haakdoorndrift gebou. Die jaarlikse Koring Oesfees, wat ontwikkel het in Thabazimbi se “glansgeleentheid” het die formaat van ’n Duitse bierfees met Umpha-orkes en Draught bier aangeneem.

Die plaas is in 1994 verkoop en hulle het hul op die Riekert familieplaas naby Mooinooi gaan vestig. Hier het hulle die kwekery, wat reeds vanaf 1956 deur die Riekert familie bedryf is, oorgeneem en tot op hede bedryf hulle dit steeds.

Neville en Elmarie was geesdriftige vlieëniers wat saam hulle vliegopleiding ondergaan het. Elmarie het gedurende 1987 haar Privaat Vlieëniers lisensie verwerf en in 1988 het Neville ook sy vlieglisensie gekry. Hulle het in 1988 hul eerste vliegtuig, ZS-DVA, gekoop. Alhoewel Elmarie nie haar lisensie in 2005 hernu het nie en Neville s’n in 2012 verval het, het hulle steeds hul vliegtuig behou wat deur die kinders gebruik word.

Die egpaar se seun, Herman (37) het 18 maande gelede tragies verongeluk terwyl hy en ’n vriend met Herman se helikopter op pad was na ’n gholfdag by Modimolle.

Neville het dit moeilik gevind om die dood van Herman te verwerk. Hy is ook ’n paar weke voor sy afsterwe met Parkinsonse siekte gediagnoseer, wat ’n verdere terugslag was.

Hy word oorleef deur sy eggenote, Elmarie, seuns: Casper en Neville en dogter Elzette le Roux asook 5 kleinkinders.

Die begrafnis vind Vrydag 31 Januarie om 11:00 plaas op die familieplaas Buffelsfontein naby Mooinooi. Die teraardebestelling sal wees in die familiebegraafplaas op Buffelsfontein.