Entertainment

Willie wil Wheelie met Wynand van Vollenstee by die KunsteGrot

’n Slim-snaakse komedie wag op die gehoor by die KunsteGrot op Saterdag 8 Februarie wanneer Wynand van Vollenstee die verhoog betree as Wille Reyneke in sy eenmanvertoning, Willie wil Wheelie.

Wynand van Vollenstee is as veelsydige akteur en sanger reeds bekend onder die gehore as Karate Kallie en met sy optredes in ondermeer produksies soos Getroud met Rugby, Die Munisipaliteit van Ghwarra-Ghwarra, My Vrou se Man se Vrou en meer onlangs in die TV sitkom in Ouboet en Wors en Huis Lelieveld waar hy die rol van Gielie vertolk.

Willie se drome is om eerstens ’n verskil in jong mense se lewens te maak en tweedens om as onderwyser sy merk te laat.

Na twee jaar het hierdie drome platgeval toe hy gatvol raak vir ongeskikte kinders en onmoontlike ouers. Hy val toe terug op sy ander droom naamlik om ’n biker te word met al die leathers en sidesaddles, ’n pispot op sy kop, rallies en al die dinge.

Een probleem. Hy het nog nie eens ’n bike nie en nog minder ’n uitnodiging om deel te word van die Boksburg Brekers Bike Club.

Die wiele van hierdie droom begin ook afval wanneer hy boonop verlief raak aan die voorsitter van die einste klub.

Kom ontmoet saam met hom al die eksentrieke karakters wat hy langs die pad teëkom – verrassende vermaak vir almal wat ooit gedroom het van groot, nuwe avonture.