Entertainment

William Blackrose op 31 Januarie by Liquid²

William Blackrose, geen onbekende op Thabazimbi nie, tree op 31 Januarie op by Liquid², ’n vertoning waarna baie van sy plaaslike aanhangers uitsien.

William Blackrose se eerste kennismaking met Thabazimbi was in die tyd van die destydse Squirrels, die disco op die perseel van Kransberg Hotel.

Net soos William ’n partytjie destyds aan die gang kon hou, het hy steeds die vermoë om met sy musiek mense te trek, soos hy die afgelope paar jaar bewys het met sy optredes by ondermeer die Barnyard en ander populêre kuierplekke in en om Harties en Gauteng.

Dit was eintlik sy vriend en mede kunstenaar, Zak van Niekerk, wat ’n groot treffer elke eerste Woensdagaand van die maand by Squirrels was, wat William hierheen gelok het. William se song Dixie, steeds een van sy groot treffers, het hy juis vir Zak geskryf wat ook geen vertoning verby laat gaan het sonder om dit te sing nie.

William is dan ook nie net ’n sanger nie, maar ook ’n liedjieskrywer en toonsetter van formaat. Sy bekendste song was Everything wat reeds in 1997 ’n treffer geword het. So het hy ook songs geskryf en getoonset vir andere sangers waaronder Patricia Lewis, Wynand & Cheree, Karen Ferreira, Christo & Cobus, Ray Dylan, Pieter Koen en Rudi Muller.

William het sy eie klankateljee by sy huis in Harties waar hy baie kunstenaars help om hul musiek op te neem. Sy vrou, Madelein, is nie alleen sy bemarker nie, maar tree ook op as agent op vir ondermeer Pieter Koen en Dozi, beide welbekend aan Thabazimbi se inwoners.

Toegang die aand by Liquid² is R60 as jy nou bespreek en R80 as jy by die hek die aand van die vertoning betaal. Wees wys en koop jou kaartjie vroegtydig.

Die deure van Liquid² maak die aand 8 uur oop en toegang is beperk tot 18 en ouer. Sien aangehegte advertensie vir meer besonderhede.

https://youtu.be/TzXYAsIUpuw?t=32