Katoen se interessante geskiedenis strek tot by Northam
Die woord “katoen” soos dit vandag bekend is, kom net soos ’n paar ander woorde, oorspronklik uit die Arabiese woord “qutun”, wat deur die Nederlanders as “cotton” gebruik en uiteindelik as catoen en later as “katoen” in Afrikaans aanvaar is.
Die eerste gebruik van katoen in die tekstiel-nywerheid kan so ver as 7 000 jaar gelede terug gevoer word waar argeoloë fragmente van kledingstukke van katoen in prehistoriese grotte in Mexico aangetref het.
Daar is ook bewyse dat die Egiptenare in die Nylvallei reeds drieduisend jaar voor Christus, katoen geweef en kledingstukke van katoen gedra het. Gedurende hierdie tydperk is katoen ook in die Indus-rivier vallei in Pakistan aangeplant en handgeweef om kledingstukke te vervaardig, netso het die groot filosowe, Herodotus en Pliny na katoen in hulle skrywe verwys.
Gedurende 1793, het die Amerikaanse uitvinder, Eli Whitney, die eerste masjien ontwerp wat die vesels van die saad 50 keer vinniger as die handproses kon skei. Hy het sy masjien ’n ginning masjien genoem – afkorting van en(gin)e waarvoor die proses deesdae steed bekend is.
In Suid-Afrika kan die kweek van katoen sover as 1516 teruggevoer word waar inheemse stamme ’n wilde tipe katoen reeds gekweek en verwerk het.
Die eerste saad katoen is gedurende 1690, sowat 40 jaar nadat Jan van Riebeeck die handelspos aan die Kaap gevestig het, in Wes-Kaap aangeplant. Die poging was nie baie suksesvol nie aangesien warm vogtige omstandighede vereis word vir die saad om te ontkiem.
Die Kaap het nie so lekker gewerk nie en uiteindelik, gedurende 1846 het dr. Adams katoensaad vanaf Amerika ingevoer wat hy by Amanzimtoti aan die suidkus van KwaZulu-Natal aangeplant het. Met die Amerikaanse Burgeroorlog wat ge-eskaleer het, het die Amerikaanse vraag na katoen gegroei en is daar op groot skaal katoen in Natal en die Kaapkolonie gedurende die tydperk 1860 tot 1870 aangeplant.
Die aanvraag het na 1870 opgedroog en dit was eers aan die begin van die 20ste eeu wat die aanvraag begin optel het.
Gedurende 1904 is sowat 12 to 14 hektaar katoen in die Tzaneen omgewing aangeplant. ’n Katoen-gin is omstreeks 1905 daar opgerig en kon die katoen in bale verpak word. Gedurende 1913 het ene mnr Taylor ’n eksperimente stasie in Rustenburg opgerig om boere meer oor katoen in te lig.
Dit is net hier waar Northam in die prentjie kom. Northam omgewing is steeds vandag bekend van die verskeie katoenlande wat daar voorkom. Die klimaat is warm genoeg maar die streek was maar nog al die jare nie baie waterryk nie. Die Waterberge oos van Thabazimbi het nie verniet sy naam gedra nie en daar was destyds beslis ’n baie hoër reënval ook in die Witteberge, wat verder wes trek vanaf Thabazimbi.
Talle plaaslike fonteine in die omgewing was, tien teen een gevoed uit die reservoir van die Waterberge waar watervalle van bo van die sommige kranse nie ’n rariteit was nie, gevoed.
’n Besoek aan die Andalusiet-myn by Thabazimbi en ’n toer na verskeie gastehuise wat hulle op die eiendom besit, was dit interessant om die waterputte op fonteine te sien wat aan die begin van die 20ste eeu daar gesink is.
Blykbaar is horisontale tonnels vanaf die fontein-putte gegrawe om as besproeiingswater vir die katoenlande verder wes na Northam beskikbaar te wees. Hiermee het die daarstelling van ’n treinspoor vanaf Rustenburg gedurende 1929 begin sin maak het.
Twee takke vir spoorlyne noordwaarts is na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) geopen. Die eerste was die spoorlyn vanaf Pretoria na die noorde deur die huidige Bela-Bela, Modimolle, waar ’n latere sytak na Elma en Vaalwater gebou is om boere te bedien, asook verder noord.
Die tweede was vanaf Pretoria-Noord na Rustenburg in die Noord-Wes provinsie gedurende 1906. Die spoor is gedurende 1929 na Northam uitgebou met ’n sylyn na Middelwit, in die rigting van Swartklip, om daar aan die boere se behoeftes te voorsien. Die enigste oorweging was op daardie stadium om die katoen by die verwerkingseenhede te kry.
Northam dra verder ook nog ’n stukkie interessante geskiedenis.
Na die oorwinning van die Britte tydens die oorlog het hulle blykbaar sommer links en regs eiendom aan Britse soldate uitgegee. Die plaas Leeukoppie het aan H Herd behoort wat dit van Britse soldate, aan wie dit toegeken was na die Anglo-Boereoorlog, gekoop. Herd is toegelaat om die dorp se naam toe dit deur EHJ Fulls, wat die plaas in 1946 gekoop het en as dorp geproklameer het, te kies. Sy keuse het toe op Northam, in Devonshire Engeland geval.
Dit is duidelik uit die verdere geskiedenis dat katoenboerdery in die Northam omgewing, beesboerdery verder noord in die Dwaalboom- en Sentrum omgewings en mampoer stokery op die Kransberg platogebied, die Thabazimbi bosveld sy beslag gegee het en nie die mynbedrywighede nie. Daarom is die Thabazimbi bosveld uniek, alhoewel die ou pioniers reeds uitgesterf het, dat hy steeds sy status as ’n plattelandse dorp mag behou.
Die hoofspoorlyn vanaf Rustenburg is gedurende 1934 verder vanaf Northam verleng na Thabazimbi waar ystererts gedurende 1929 ontdek is en die Suid-Afrikaanse Yster en Staal korporasie die Thabazimbi ysterertsmyn ontwikkel het.
Die 1933 droogte en depressie het die boere in Die Thabazimbi en verder noord, baie hard geslaan en baie was in die posisie dat hulle hul plase sou verloor weens die droogte en swak ekonomie. YSKOR het egter werkers benodig om die treinspoor verder vanaf Northam tot op Thabazimbi te bou.
Die blykbare ooreenkoms met die boere was destyds dat die boere wat gewillig sou wees om die spoorlyn te help bou, vir homself die werk as ’n myner op Thabazimbi myn kon verseker. Op hierdie manier kon hulle ’n inkomste verdien om hul plase van ondergang te red. Dit was wit Afrikanersweet wat hier getap het.
Dit was dan ook die geval dat Yskorwerkers bevordering na ander Yskormyne van die hand gewys het omdat hulle nie ver van hul familieplase, wat swaar bekom is, wou bly nie. Sekerlik ook die groot rede hoekom Thabazimbi, nieteenstaande die Myndorp kabel wat om hom gehang is, in wese nooit ’n myndorp was nie. Daar was geen vreemde werkers wat destyds vir ’n paar sent meer per uur, in vergoeding, sou verskuif na ’n ander myn nie.
Die katoenbedryf het ’n verdere vroeër verband met die mynbedryf toe African Explosives ’n katoen-verwerkings eenheid gedurende 1924 in Umbogintwini in Kwa-Zulu Natal opgerig het.
Gedurende dieselfde jaar het ene mnr Rouxliard ’n ginnery in Magut, Kwa-Zulu Natal, opgerig. Lancashire Cotton Corporation Spinners van die Verenigde Koninkryk het dit opgevolg met nog ’n verwerkingseenheid in 1935 in Louis Trichardt. Die katoen vesel is op daardie stadium na Liverpool in Engeland uitgevoer aangesien daar geen weef-fasiliteite in Suid-Afrika destyds bestaan het nie.
In Suid-Afrika het katoen eers gedurende 1939 erkenning ontvang as ’n landbougewas.
Gedurende die 2014/2015 produksiejaar het Suid-Afrika 94 000 bale katoen, van 200kg elk, gelewer wat gelykstaande is aan 19 miljoen denims of 63 miljoen T-hemde.
Katoen is veelsydig. Die verskillende dele van die plant het verskeie aanwendings: Dit wissel van gebak tot veevoer, verpakking tot klerasie asook van linne tot seep.
Steeds is die grootste aanwending van katoen, alhoewel slegs 37% daarvan, om jou volgens die jongste modeguur gekleed te hou.