Editorial

“Ou SA Vlag is haatspraak” beslis Regter

Regter Phineas Mojapelo van die Gelykheidshof het Woensdag 21 Augustus beslis dat die ou Suid-Afrikaanse landsvlag ’n duidelike simbool van Wit oppergesag en onderdrukking is.

Volgens die regter ondersteun die vlag as dit vertoon word haatspraak, onregverdige diskriminasie en teistering en beteken die uitspraak in werklikheid dat mense wat die vlag vertoon hulleself skuldig maak aan haatspraak.

Die saak spruit voort uit ’n klagte deur die Nelson Mandela Stigting asook die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie toe die vlag gedurende die Swart Maandag Betogings teen plaasmoorde in 2017 vertoon is.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het daarop gewys dat die vlagsteeds vir kunswerk, akademiese navorsing en joernalistieke doeleindes gebruik mag word en dat die DA nooit die totale verbanning van die vlag sal steun nie.

Die DA sê verder dat deur die vlag te verban sal toekomstige geslagte die geleentheid ontneem word om vertroud met die volledige geskiedenis van Suid-Afrika te wees. Hierdie is ’n geskiedenis wat nie vergeet of herhaal kan word nie.

Die VF Plus hoofsweep,  Corné Mulder, het daarop gewys dat die ontstaan van die nuwe bedeling in Suid-Afrika gegrond is op nasiebou en versoening. Om dit nou weg te kalwe is gevaarlik en het geen nut nie.

Hy het gesê dat hierdie uitspraak ’n gevaarlike president skep. “Wat van die Britse vlag waaronder tienduisende wit- en swart mense in Britse konsentrasiekampe gesterf het? Om nie te praat nie van die ou vlag van die Sowjet-Unie wat deur die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party voorgehou word en waaronder miljoene mense gesterf het.”

Ernst Roets van AfriForum het direk na die uitspraak aan joernaliste by die hof sy kommer oor die uitspraak uitgespreek.

Hy het gesê of dit nou ’n vlag of ’n simbool is, kan nie genoeg rede wees om dit as haatspraak te klassifiseer nie. Hy het ook daarop gewys dat beeldmateriaal wat op sosiale media versprei is, vals was en nie betrekking gehad het op die Swart Maandag betogings nie, maar dat dit tydens ander byeenkomste geneem is.

Julius Malema van die EFF het in sy kommentaar laat blyk dat die verwydering van die Stem van Suid-Afrika die volgende teiken is.