Laerskool Thabazimbi Nuus: Sport klinieke en Kultuur

Met krieket en hokkie wat nou die sportseisoen oorheers, is Laerskool Thabazimbi besig met voorbereidings om hul spannetjies slaggereed te maak vir die seisoen wat voorlê.

Beide die krieket-kliniek en die hokkie-kliniek wat die skool se sportspanne gaan bywoon, word by Camp Discovery in Pretoria aangebied. Buiten die klinieke gaan die kinders heelwat pret hê met al die ander fasiliteite waaroor Camp Discovery, wat binne wildsplaas geleë is, beskik.

Die Krieket-klinieke word vir die o/10, o/11 en die eerstespan aangebied en vind plaas vanaf 14 tot 16 Junie.

Die Hokkie-kliniek vir die o/10 en o/13 spanne word vanaf 22 tot 25 Junie aangebied.

Twee van Laerskool Thabazimbi gekies vir Limpopo Rugby o/12-Span.

Foto regs: Zyanda Ngubane en Darren Pretorius van Laerskool Thabazimbi is opgeneem in die Limpopo o/12 Rugbyspan. Die skool wens hulle geluk met die prestasie en wens hulle sterkte toe vir al die wedstryde wat gespeel word.

Redenaars dring deur na finaal

Foto onder

2019_LS_TBZ_11_Junie_Redenaars
Laerskool Thabazimbi se redenaars het deurgedring na die finaal van die Artisticulta Redenaarskompetisie wat vanaf 11 tot 13 Julie by Laerskool Wierdapark aangebied word. Hulle is op die foto van links voor: Bertus Els (Graad 2), Odelia van der Nest, Tayla Cross, Milan Stander (almal Graad 1) en Duan van der Nest (Graad 3). Middel: Lialette Minnaar, Jana Kriek (beide Graad 3), Elri Geldenhuys (Graad 6), Taryn Stander en Gert Hendrik du Plessis (beide Graad 4). Agter: Ivon Keyser, Nicki Lintvelt, Melanie Robberts (almal Graad 7) en Jarianca du Plessis (Graad 6).