EntertainmentGeneral

Skryf nou in vir Baba-en-Kleuter Fotokompetisie


Daar is nog twee geleenthede om foto’s van jou kleinding te laat neem vir die jaarlikse Thabazimbi Landbouskou se Baba-en Kleuter Fotokompetisie.

Die Kompetisie word in samewerking met Alpha Pharm Medhof Apteek aangebied en foto’s vir inskrywings word deur Mari Engelbrecht in Medhof Apteek in Thabazimbi geneem.

Die tema vir die kompetisie is die “OSCARS” – begin nou maar solank dink oor hoe jy jou baba en kleuter se klere gaan kies.

Die twee geleenthede om foto’s te laat neem is naamlik Saterdag 1 Junie en Saterdag 22 Junie en wel die oggende vanaf 09:00 tot 12:30 die middag. Inskrywings beloop R100 en sluit die neem van die foto’s vir die kompetisie in. As bonus ontvang jy ’n 10% afslag koepon wanneer jy jou kind inskryf. Die koopbewys is geldig vir aankope by Bibs & Babes klere Boutique. Die verskillende kategorieë is tussen die ouderdomme 0 tot 5 jaar en die wenners van die onderskeie kategorieë word Saterdag 27 Julie 2019 om 09:30 in die Skousaal tydens die Thabazimbi Skou aangekondig.

Die Thabazimbi Skou word vanjaar vanaf 25 tot 27 Julie 2019 op die Thabazimbi Skouterrein aangebied.

Soos gewoonlik is daar talle ongelooflike pryse in die vorm van nuttige geskenkpakke wat deur die borge van die kompetisie, hoofsaaklik verskaffers van Bibs & Babes Boutique en Medhof Apteek, geskenk word. Hierdie borge is firma’s buite Thabazimbi en die foto-inskrywings word aan hierdie borge voorgelê om die kategoriewenners van die kompetisie aan te wys.

Tydens die prysuitdeling is daar heelparty gelukkige trekkings, ’n talentkompetisie en selfs ’n kompetisie-dans vir Ouma en Oupa, met of sonder die kleinkinders.

Hou Kwêvoël dop vir meer besonderhede hieroor wanneer die finaliste in die kompetisie ’n week voor die Skou bekend gemaak word.

Mari Engelbrecht sal ook tydens die oorhandiging-geleentheid beskikbaar wees om nog foto’s van die wenners teen addisionele betaling in haar ateljee stalletjie te neem.

Die ouers/voogde van kinders wat ingeskryf word onderteken ’n onderneming tydens inskrywing dat hulle toestem tot die reëls soos deur die organiseerders neergelê.

Vir meer besonderhede kontak Tala by Medhof Apteek tel: 083 356 8806.

Vanderbijlstraat 66 Thabazimbi –
Tel: (014) 777 1287

Tye:
Maandag – Vrydag: 07:00 – 18:00
Saterdae: 08:00 – 18:00
Sondae en Publieke Vakansiedae:
08:00 & 16:00 – 18:00