Ou Bosvelder lê haar hoof neer

Tannie Hantie Steenekamp (96), is Vrydag 7 Desember in die Tambotie versorgingseenheid oorlede. Sy en haar man Robert het vir 41 jaar in die Koedoeskop distrik op die plaas Grootkuil geboer.

10 Des Tannie Hantie oorlede
Tannie Hantie Steenekamp van Thabazimbi is Vrydag 7 Desember oorlede. Sy was 96 jaar oud.

Tannie Hantie is die ma en skoonma van Hantie en Ewald Botha van Thabazimbi. Hantie was vir etlike jare verbonde as administratiewe klerk by Hoërskool Frikkie Meyer, dieselfde skool waar sy haar matriek voltooi het, totdat sy met pensioen uit diens getree het. Ewald het al die jare by Iskor en later Kumba gewerk.

Tannie Hantie is op 28 Augustus 1922 op die plaas Sandfontein, êrens op die verre Wesrand, gebore. Sy het haar skoolloopbaan op Rustenburg Ou Hoër voltooi en het daarna by die United Tobacco Corporation op Rustenburg begin werk.

Sy is gedurende 1941 met Robert Steenkamp getroud en hulle vestig hulle op hul plaas in die Koedoeskop omgewing.

Nadat hulle die boerdery op Koedoeskop gedurende 1982 jaar opgegee het, het hulle ’n tyd lank in die Makoppa en Potchefstroom omgewings vertoef voordat hulle hul in Thabazimbi gevestig het.

Gedurende 1994 verhuis die egpaar na Rus-Oord in Rustenburg waar oom Robert gedurende 1998 oorlede is. Tannie Hantie het aangebly tot 2013 toe Hantie en Ewald haar teruggebring het na Thabazimbi waar sy in Huis Immergroen vir twee jaar gebly het.

Haar toestand het geleidelik verswak, sodanig dat sy oorgeplaas is na Tambotie Versorgingseenheid waar sy gebly het tot haar afsterwe.

Uit die huwelik is vier kinders gebore waarvan die oudste as kind oorlede is.

Sy word oorleef deur haar kinders en skoonkinders, Michael en Wendy Steenekamp wat in Johannesburg woonagtig is, RW en Hester Steenekamp wat op Montague in die Kaap woonagtig is en Hantie en Ewald Botha van Thabazimbi asook ses kleinkinders en tien agterkleinkinders.

Die Gedenkdiens sal môre, Dinsdagoggend 11 Desember, om 11:00, vanuit die NG Kerk Thabazimbi plaasvind.

Hooffoto van links: Michael en Wendy, RW en Hester, Tannie Hantie, Hantie en Ewald.