Community

Een van Thabazimbi se oudstes oorlede

Ouma Nana Dreyer is op 9 Oktober 2018, een dag voor sy 93 sou word, oorlede in Tambotie Sorgsentrum.

Sy is op 10 Oktober 1925 gebore op die plaas Witkoppies in die Olifantsfontein omgewing.

Gedurende 1955 is sy met Chris Dreyer getroud. Hulle het in 1962 na die bosveld toe gekom waar hulle tot in 1974 op Northam woonagtig was.

Haar man, Chris, was die Stasiemeester van Northam tot sy aftrede in 1974. Na sy aftrede het hulle na Thabazimbi toe getrek waar hulle vinnig deel geword het van die gemeenskap.

12 Okt - Nan-Dreyer-2
Nan Dreyer wat op Dinsdag 9 Oktober oorlede is, die dag voor haar 93ste verjaarsdag.

Ouma Nana was ook baie betrokke by die VLU.

Op die hooffoto is sy saam met haar kinders en kleinkinders.

Hulle is: Voor van links: Paul Dreyer, Ian Dreyer, Ouma Nana, Annette Shanahan en Quentin Shanahan. Agter: Henry Read, Lizelda Read, Bazil en Gwen Shanahan, Jana Snyman, Paul Dreyer en Francois Snyman.

Haar man is in 1996 oorlede waarna haar seun, Paul, by haar kom bly het.

Sy was alom bekend as die ou tannetjie wat elke dag winkels toe geloop het vir inkopies.

In 2015 het sy egter geval en haar heup gebreek waarna sy in ‘n rolstoel was en vir ‘n rukkie in Tambotie gaan bly het. Sy het sodoende herstel dat sy weer in haar huis in Frikkie Meyerstraat gaan bly het.

Met die tyd het Alzheimer begin intree en sy is weer op Saterdag, 29 September 2018 in Tambotie Sorgsentrum opgeneem.

Op 9 Oktober 2018, slegs een dag voordat sy 93 sou word, is sy oorlede.

Nan Dreyer word oorleef deur haar twee kinders, Jana en Paul, 5 kleinkinders en 4 agter-kleinkinders.

Nana word op Dinsdag, 16 Oktober 2018 om 11:00 vanuit die NG Kerk Thabazimbi begrawe.