Entertainment

Klassieke inspuiting neffens die Magalies-reeks by Rustenburg

Dit is met groot afwagting dat daar uitgesien word na die derde Klassieke Musiekfees, aangebied deur die Buffelspoort Vallei Toerisme Vereniging. Hierdie jaar vind dit in die historiese gemeenskap van Kroondal plaas en word daar gepoog om die pragtige Magaliesberg Biosfeer aan ‘n wye gemeenskap bekend te stel, klassieke musiek te bevorder en aan die kunstenaars, sommige uit die gemeenskap, blootstelling te bied. Dit is ook ‘n grootse poging om, veral by kinders, ‘n waardering en liefde vir hierdie ou en deurleefde musiek te vorm.

Classics adv 1Die Deutsche Schule Kroondal in hierdie voormalige Duitse Nedersetting teenaan Rustenburg, waar Duits nog as semi-amptelike taal herken word, is gekies as die ideale plek waar die Magaliesberg Biosfeer Classics op 13 Oktober aangebied gaan word.

Die nedersetting, oorspronklik bekend as Kronendal, het sy oorsprong in 1843 gehad as ’n Duitse sendingstasie, een van 22 in Natal en die destydse Transvaal. Teen 1889 is die nedersetting in plotte opgedeel met hul eie skool, Deutsche Schule Kroondal, wat in 1892 die kinders van die destydse Duitse kleinhoeweboere bedien het.

Bouwerk aan die Lutherse Kerk is in 1895 begin en die kerk is ’n jaar later, op 24 Junie 1896, in gebruik geneem. Die gebou is gedurende 1980 as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en het in die loop van die jare as bakermat in die gemeenskap bly staan.
Die kerk gaan steeds met sy bediening voort met sowat 400 lidmate waarvan sowat 80% Duitssprekend is en die res Afrikaanssprekend.

Mense wat ook deur die meulsteen van die skool gegaan het, was onder andere Louis Botha, voormalige eersteminister van die Unie van Suid-Afrika, asook die befaamde Afrikaanse digter JD du Toit, beter bekend as Totius, wat diep spore in die Afrikaner kultuur getrap het.

Intussen het hierdie kleinhoewe-boere se nageslag hulle merk as megaboere en sakemanne in die Rustenburg gemeenskap gemaak.

Verskeie kunstenaars word Saterdag 13 Oktober betrek by ’n vol program op die skoolterrein terwyl stalletjies met vermaak vir die kinders sal aan die orde van die dag sal wees.

Die terrein open Saterdagoggend om 09:00. Kaartjies vir die dag sluit in al die optredes van die kunstenaars, met heelwat stalletjies met lekker eet- en drinkgoed, mooigoed, speelgoed, en alles wat so ‘n fees die moeite werd maak.

Die oggendprogram sien soos volg daar uit:

09:30 Lebone II College of the Royal Bafokeng Junior Marimba Band. 14 Studente van gr 6.
10:00 Sempre Musica koorsang.
10:30 CH2 Klassieke en Jazz duo met ‘n flamenco danseres. Hulle tree in die skool- /kerksaal op.
11:30 Bella Musica, ensemble met viol en clavier.
12:30 Die begaafde operasangeres, Linette van der Merwe en Chris Mostert met begeleiding Ferdi Geyer, “From Opera to Broadway” ook in die saal.
13:30 Brothers- in Arms mannekoor.
14:00 Venetia Rose pragtige jong diva.
14:30 Die Kroondal koperblasers.

Kinders onder 12 kan verniet inkom en die res betaal slegs R100 vir ‘n wonderlike dag se vermaak deur deurwinterde en baie begaafde kunstenaars. Voorwaar ‘n winskoop!

Kaartjies vir die aand se vertoning, wat ’n wynproe insluit, beloop R150 per persoon en voorafbesprekings hiervoor is noodsaaklik.

Ligte tapas ete deur Food Works is ingesluit. Gaste sal ook vermaak word deur ‘n snaar kwartet, die Garona Strings.

Die deurwinterde kenner van die Magaliesberg Biosfeer, Vincent Carruthers, sal gaste meer vertel van die wonderlike omgewing waarin hulle bly. Voorwaar ‘n wonderlike spreker met ensiklopediese kennis van die natuur.

Die wynproe, aangebied deur “The Good Oaks”, word aangebied met ’n wynveiling, gedoen deur Roy Van Eck. Wyne van Eikendal, Kaapzicht, Longridge en Mooiplaas kelders kan geproe (en gekoop) word. Besonderse versamelstuk-wyne van Tokara, Ridgeback en Eikendal sal opgeveil word. Die wins hierop sal bestee word aan die aankoop van instrumente vir behoeftige, talentvolle studente.

Classics 2018 Program

Maak dus seker dat jy jou kaartjies vir die wynproe so gou moontlik bespreek.

Aanlyn: skakel 082 5735485, of te koop by: Kumquat Gifts by Buffelspark, Buffelspoort en by Aug Behrens, Kroondal, asook by die hekke op Saterdag.

Vir meer inligting kontak Surana van Wyk by 082 573 5485 / Faks: 086 614 2986.

Verskeie gastehuise en oornaggeriewe is ook beskikbaar gedurende die tyd van die Classics, maak gerus gebruik daarvan en geniet die gemeenskap se gasvryheid vir nog ‘n dag. Klik onderaan die raam van die program hier bo om lys van plekke van verblyf te sien.