Thabazimbi: Polisie ingeroep om orde te herstel tydens vergadering

tbz-mun-foto-1

Chaos onder die ANC opposisie het Vrydag 30 September tydens ’n raadsvergadering van die Thabazimbi Munisipaliteit uitgebreek en die hulp van die polisie moes ingeroep word om orde te herstel.

Volgens die burgemeester, Midah Moselane, het sy die hulp van die polisie ingeroep omdat dit duidelik vir haar was dat die opposisie die vergadering in ’n geveg wou laat ontaard.

ANC-lede het die raadsaal vooraf beset om te koukus. Toe die vergadering moes begin het hulle meubels omgekeer en waterbottels rondgegooi.

’n Paar polisielede het opgedaag en gehelp om fisiese konflik te voorkom. Hulle het ook gehelp om orde te hou terwyl die vergadering na ’n ander perseel verskuif is.

ANC-raadslede het beweer dat hulle geen agenda van die vergadering ontvang het nie. Van die raadslede was onbeheerbaar en het die vergadering probeer ontwrig.

Moselane het gesê dat die agenda meer as sewe dae voor die vergadering aan alle raadslede gestuur het. “Die ANC-raadslede sê dat hulle die agenda sewe dae voor die tyd benodig, wat wel gebeur het.”

Uiteindelik is die vergadering na ’n ander perseel verskuif waar die nodige besluite geneem is. ’n Datum vir die volgende vergadering waar die notule bespreek sal word moet nog bepaal word.

Intussen het die Limpopo Provinsiale regering besluit het om die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit met ’n lening van R25 milj te help om sy kontantvloeiprobleme, wat tans ondervind word, te oorkom.

African News Agency berig dat die provinsiale regering se woordvoerder, Phuti Seloba, tydens ’n media inligtingsessie bekend gemaak het dat die besluit Donderdag 29 September deur die Limpopo Premier, Stan Mathabatha en sy uitvoerende raad tydens ’n kabinet Lekgotla geneem is.

Etlike miljoene rande se skuld is deur die vorige ANC-beheerde munisipaliteit opgehoop terwyl amptenare in weelde gebly het en nie hul kontraktuele verpligtinge teenoor krediteure en ander diensverskaffers soos Eskom en die Magalies Waterraad nagekom het nie. Raadslid en Speaker van die raad, dr. Bertie Joubert (DA) het gesê dat die nuwe raad onwettige en ongemagtigde uitgawes van meer as R200 miljoen gedurende die vorige finansiële jaar bloot gelê het. Volgens hom kan dit kan dalk maar net die piek van die ysberg wees. Hy het ook die hoop uitgespreek dat die Tesourie sal toegee tot die raad se versoek vir ‘n forensiese ondersoek na die vorige raad se geldsake.

Verskeie korrupsieklagtes is in die verlede deur lede van die DA teen munisipale werkers en raadslede by die SAPD ingedien. Hopelik sal hierdie klagtes nou aandag geniet, veral nadat daar gedurende ‘n raadsvergadering van die Thabazimbi Munisipaliteit gehou op 1 September 2016, ‘n resolusie aanvaar is om die dienste van twee senior amptenare, verantwoordelik vir die finansiële bestuur van die munisipaliteit, te beëindig in ooreenstemming met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA – Municipal Finance Management Act) en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA – Public Finance Management Act).

In bykans alle gevalle is hofbevele aan skuldeisers teen die munisipaliteit uitgereik sonder dat die munisipaliteit enigsins probeer het om te skik of die saak in die hof te verdedig. Tydens die afgelope munisipale verkiesing het die ANC sy wurggreep op die inwoners van Thabazimbi verloor en die DA het met sy koalisie vennote, die EFF en die Thabazimbi Residents Association saamgesnoer om die munisipaliteit weer funksioneel te kry.

Toe die nuwe verkose raad met hul werksaamhede moes begin moes hulle uitvind dat die balju dieselfde dag toegeslaan het en beslag gelê het op alle kantoormeubels en rekenaars. Lêers is op ’n hoop in een van die kantore gegooi in ’n orgie van verwoesting wat deur die vorige raad toegelaat is gedurende die week wat hulle geweier het om hul poste te ontruim en ’n spesiale vergadering te reël waartydens die nuwe raadslede ingehuldig moes word.

Die vertragingstaktiek deur die Provinsiale ANC-regering was duidelik gemik op die Thabazimbi en Modimolle munisipaliteite waar die ANC-beheerde rade hul volslae meerderheid verloor het. Dit is ook nie duidelik hoekom die Balju op die Thabazimbi Munisipaliteit toegeslaan het, juis op die oomblik dat die raad beheer moes oorneem.

Daar is reeds op ’n vroeëre geleentheid beslag gelê op die raad se voertuie, insluitende ’n watertenker wat gebruik is om water in gedeeltes van die dorp te verskaf as gevolg van swak instandhouding en opgehoopte skuld aan Magalies Waterraad.

Dit was nie die enigste beslaglegging op die munisipale voertuie nie. Wonder bo wonder kon hulle nie daarin slaag om beslag te lê op die peperduur Mercedes Motorvoertuig, die persoonlike ampsmotor van die burgemeester nie. Die voertuig was telkens tydens elke beslaglegging vermis.

Die DA het onmiddellik aan die werk gespring en krediteure genader om ’n verdere beslaglegging te verhoed, en het ’n ooreenkoms aan gegaan om die kantoormeubels en rekenaars terug te kry om hul werksaamhede te voort te sit.

Die R25 miljoen is slegs ’n reddingsboei en heelwat sal vermag moet word om die afgetakelde infrastruktuur te herstel en volgehoue dienste te lewer nadat hulle na die eerste maand wat die nuwe raad aan bewind is, nie al hul kontraktuele verpligtinge kon nakom nie.

Inwoners wat enigsins ’n bydrae kan lewer word versoek om die DA te kontak.