Met die nuwe tegnologie tot almal se beskikking, is daar een wat hardkoppig voortleef. Dit is naamlik die media wat nuus, plaaslik in die geval van die plaaslike koerant en nasionaal vir die dagblaaie, aan die publiek oordra.
Buiten die teensin van besighede om te adverteer is daar steeds publikasies wat advertensies verkoop sonder dat hulle, buiten ’n gesertifiseerde drukoplaag, nie ’n idee het van hoeveel van hulle produk die teikenmark plaaslik bereik nie. Dit in teenstelling met die verkoopte koerant. ’n Koerant is vir sy inkomste afhanklik van advertensies. Sodra dit ’n voublaadjie vir gemorspos raak, sal hy sy deure moet sluit. Dink sakemanne werklik dat die paar rand se inkomste uit verkope die koerant se voortbestaan kan waarborg. ’n Koerant gebruik nuus en hiermee ’n diens aan die besighede wat adverteer, om hulle produk in die publiek se huise aan die leser bloot te stel.
Die internet het gewys dat mense nie vir nuus wil betaal nie. Netso sal ’n advertensieblaadjie nie verkoop as dit vanaf die winkelrakke te koop aangebied word nie.
Suid-Afrika, met sy ekonomie wat reeds lank gelede begin verkrummel het soos die regering en hul vriende besig is om die fondamente wat die struktuur ondersteun vir eie gewin uit te grawe, die aflegging van veral mynwerkers en ’n negatiewe sakesektor, is Kwêvoël nie die eerste om op die tak te gaan sit nie. Stygende koste van papier, arbeid en brandstof, die inkorting van krediet sowel as die swaar belasting en onredelike arbeidswetgewing deur die regering daar geplaas om die werker te beskerm, gaan juis daarvoor sorg dat daardie einste werknemer en sy medewerkers binnekort nie meer ’n werk gaan hê nie.
Instansies soos die CCMA, is daar om te verseker dat die werker altyd werk het. Ongelukkig moet die besigheid se eienaar vir die nuwe werk geleentheid sorg by ’n ander instansie, wat ook met dieselfde probleme opgesaal is, anders word die werkgewer verplig om prokureurs te huur indien hy aangekla word deur die werknemer dat hy onregmatig afgedank is, al besef die werkers dat hulle dalk een van die redes vir die personeel verminderings aksie is nie. As ’n werkgewer, na ’n paar duisend rand wat aan sy prokureur moet oorbetaal is, by ’n CCMA vergadering uitstap sonder enige verdere eis op vergoeding deur die werkgewer, dan besef jy dat die CCMA ook na die belange van die besigheid omsien. Ongelukkig kan sake nie met ’n handomkeer reggestel word nie en sodoende verloor die regering miljarde rande aan belasting indien die besigheid gedwing word om sy deure te sluit.
Op die ou einde is dit bedrog wat veroorsaak het dat Suid-Afrika onttroon is as die grootste ekonomie in Afrika. Nieteenstaande die feit dat Suid-Afrika met die grootste begroting vir onderwys, die swakste vertoon met die hoë persentasie ongeletterde skoolverlaters. Dit alles dra by tot die steeds stygende persentasie van werkloosheid wat reeds op bykans 27% staan. Dan neem dit nie die miljoene mense wat al opgegee het omwerk te soek in ag nie.
Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël

