Hoof Loots groet na 40 jaar
SWARTKLIP – Na 39 jaar en 3 maande neem Laerskool Platina en die Swartklip gemeenskap swaar afskeid van ‘n hoof wat diep spore in ieder en elk se harte getrap het.
Servaas Loots het in 1974 by Laerskool Platina begin skoolhou. Dit was sy eerste pos as onderwyser nadat hy gekwalifiseer het. Amper 40 jaar later is hy steeds by dieselfde skool en het die skool met ‘n ferm hand gebring tot waar dit vandag is.
Hy het die pos van hoof betree in 2000 en op 20 Maart 2013 het die skool afskeid geneem van die legende.
Deur die jare het hy Laerskool Platina sien verrys tot die skool wat dit vandag is. Hy het as steunpilaar gedien vir beide sy medemens en sy kollegas.
Sy toegewydheid tot die professie het sy leerders laat opkyk na hom en hy het hulle begelei en geïnspireer om met entoesiasme en volharding ‘n sukses van hulle lewens en loopbane te maak.
Mnr Loots, soos hy in die gemeenskap bekend was, is en was nog altyd ‘n familieman en sy medemens, sy personeel, sy vriende, lê hom almal baie na aan die hart.
Hy sal onthou word as ‘n man wat familie as prioriteit gesien het bo enige ander. Mense is vir hom belangrik en menslike belange is altyd sy eerste kommer.
Dit is met groot hartseer, maar ook met baie goeie wense, dat Mnr. Loots gegroet word en word net die beste vir sy aftrede toegewens.
Laerskool Platina, sowel as die gemeenskap van Swartklip, gaan ‘n baie armer plek wees sonder hom.
Mnr SD Loots roep die onderwys vaarwel nadat hy sowat 40 jaar by Laerskool Platina skoolgehou het.