Voorsitter vermaan Thabazimbi burgemeester
Tobie Lombard
ROOIBERG – Die voorsitter van die Rooiberg Inwonersvereniging het die burgemeester van Thabazimbi, raadslid PA Mosito in ‘n skrywe ernstig gemaan om dringende erns te maak van ‘n skrywe wat deur ‘n plaaslike regsverteenwoordiger aan die raad gerig is rakende ‘n uitstaande munisipale rekening van meer as R800 000, wat aan ‘n boer verskuldig is.
Die boer, mnr Christopher York verskaf water aan Rooibergdorp en die raad het volgens kontraktuele ooreenkoms hom nog nie ‘n sent vir die waterverbruik betaal nie. Dit, terwyl die belastingbetalers van die dorp hulle maandelikse rekeninge getrou betaal het. Daar was vir etlike maande geen elektrisiteit of watermeterlesings deur die munisipaliteit geneem nie.
Die voorsitter, mnr Kampie Steenkamp het aan Die Kwêvoël gesê dat die erns van die saak nie genoeg beklemtoon kan word nie. As mnr York die dorp se watertoevoer afsny sal dit ‘n onhoudbare situasie tot gevolg hê. Steenkamp het verder genoem dat die burgemeester vriendelik genooi is om die dorp te besoek om haarself op hoogte van sake te bring.
Die sowat 250 RDP huishoudings – informele plakkershutte uitgesluit – betaal tans geen waterverbruik nie en dit is ‘n ernstige probleem. ‘n Ander erge kopseer is die vullisstortingsterrein wat nog nie geregistreer is en nie volgens voorgeskrewe wetgewing bedryf word nie.
Steenkamp beoog ‘n algemene dorpsvergadering vir Januarie 2013. Die datum sal in hierdie koerant aangekondig word.
Mnr Kampie Steenkamp, Voorsitter van die Rooiberghuiseienaarsvereniging.