Ons lesers skryf – Die waarheid

Ek antwoord op Chris en Sue-Marie se brief in verlede week 16 Julie se Kwêvoël. Ek is Kaaitjie de Klerk – meeste mense ken my of weet minstens waar ek bly. Ek bly al 30 jaar in Thabazimbi.

Ek het ’n voëlboerdery gehad, teël met Marmoset apies en is ook KUSA-geregistreerde teler van Yorkshire terriërs, waarvan die koste per hond tussen R3000 en R5000 beloop. Dit sal dus totaal onverantwoordelik van my wees om my hekke oop te laat! My hekke is nie net toe nie maar word gesluit en daar is ’n groot klok by my hek wat gelui moet word om te kan inkom. As jy my naam genoem het in die koerant sou almal geweet het dat niks die waarheid is nie maar een groot leun.

Ek het gesê my hondjie, wat terloops een van die duurste, skaarste is, bruin is en klein, is uit my erf uit gesteel. Ek het nie gesê jy het haar gesteel nie, want jy het mos gesê jy het haar by ’n vrou gekry wat self vyf Yorkies het. Julle het geweet dat Nikita my hondjies is, want jy het dan kwansuis ’n paar keer honde aan my terug besorg, wat ’n leun is, want my honde kan nie uit nie.

Die Sondag na kerk het ek my een hondjie vermis. Die Maandag oggend agt uur het ek Thaba Stereo gebel asook albei Veeartse om haar as vermis aan te gee. Dieselfde Maandag het julle haar veearts toe gevat en nie gerapporteer dat dit ’n hondjie is wat verlore geraak het nie, julle het ook nie gesê iemand in Thabazimbi het haar vir julle gegee nie. Vrydag voormiddag het ek inligting gekry oor wie haar het. Ek het dadelik gery en haar gaan haal.

Enige persoon wat ’n Yorkie optel, behoort die veearts in kennis te stel, omdat dit ’n duur en skaars hondjie is. Sy is en was nie verwaarloos nie en enige iemand is welkom om te kom inspeksie hou oor die toestande waarin my diere leef. Dit is nie teen die wet om geld uit honde te verdien nie. Geen normale mens hou baie honde aan as jy nie ontsettend lief is vir diere nie.

Ek het jou gesê my man het gesê ek gee nie die geld nie, want dis nie ons skuld dat jy ’n  gesonde hondjie veearts toe gevat het nie.

Dankie vir my besigheid se publisiteit, want ek kry oproepe van oral!

Kaaitjie de Klerk