Die huis met ʼn houtkis op die solder
Deur Pieter Coetzee – Kortverhaal – inskrywing vir die ATKV-KunsteGrot Skryfkunskompetisie 2024
(ʼn Bietjie langer as die gegewe voorskrifte vir die kompetisie – maar nou-ja – dit het bietjie langer gevat om die hele storie te vertel – en Kwêvoël het plek daarvoor – sic)
Die huis met ʼn houtkis op die solder
Die jaarlikse uittog see-toe vir ons gesin se somervakansie was na Perdekardraaibaai, ʼn klein strandjie so halfpad tussen Keimond en Oos-Londen. Hier het afgeleë werklik betekenis gekry. Buiten die paar huise was daar net ʼn klein plaaswinkeltjie met ‘n petrolpomp sowat vyf kilometer op die pad terug na die hoofkuspad.
Die onherbergsaamheid van die gebied met die talle klein stroompies met hulle oorsprong in die binneland se bergagtige gebiede wat in hul tog na die see saamgesmelt en diep inhamme by die riviermonde veroorsaak het toegang tot die see beperk. Bykans al die strande langs hierdie gedeelte van die kus se enigste toegang, buiten seelangs, was hul eie paadjie vanaf die kusweg wat sowat 10km verder binneland toe die kuslyn gevolg het.
Die grondpaadjies wat oorspronklik nog deur die plaaseienaars self gebou is, was selde in stand gehou. Alhoewel die paaie nie groot verkeer gedra het nie moes jy maar stadig ry dat jy nie onverhoeds deur die sinkplate by die draaie gevang word nie. Al was die rit ʼn beslommernis het dit bygedra tot ʼn behoorlike wegbreek vanaf die stad se gewoel.
Dit was lank voor die koms van selfone en slegs enkele huise het oor ʼn landlyn telefoon beskik. Radio-ontvangs was ook maar swak en vir die jongste nuusgebeure was jy van die Sondagkoerante wat Sondagoggende by die klein kafeetjie by die strand of die plaaswinkel met die petrolpomp te koop was. Jy moes ook maar vroeg jou draai daar maak voordat al die koerante opgeraap word. Sou jy ‘n tydskrif wou koop kon jy dit darem vooraf bestel en dié is dan Sondae saam met die koerante afgelewer.
Die naaste groot winkels was sowat veertig kilometer verder, ʼn uitstappie wat jy eerder wou verhoed. Gelukkig was daar darem elektrisiteit en kon jy genoeg voorrade van kruideniersware en gevriesde vleis saambring.
Varsprodukte was elke Saterdagoggend by ʼn klein boeremarkie beskikbaar waar van die omliggende boere hul produkte verkwansel het. Daar was geen gestoei of biëry betrokke by die mark nie. Die varsprodukte is op ʼn lang tafel uitgestal en jy het jou mandjie gepak met dit wat jy vir die volgende week nodig het. Terwyl jy op die helpers by die mark wag om hul sommetjies vir die groente in die mandjies so al teen die ry af te maak, het almal al kletsend hul beurt geduldig afgewag. Inwoners het op dié manier mekaar leer ken en bande tussen families en ander besoekers is gereeld verstewig. Almal was reeds vroeg daar en laatkommers moes maar tevrede wees met die paar groentetjies wat niemand anders wou gehad het nie.
Soos die families wat die grond besit het groter geword het, is al hoe meer vakansiehuisies opgerig. Ver genoeg van mekaar af maar naby genoeg om steeds die see te kan sien of waar die onophoudelike kom en gaan van die brekende branders op die strand en die rotse, veral snags, duidelik hoorbaar is en baie gerusstellend was sou jy wakker word. Die dreuning het verander soos die wind draai. Wanneer ‘n landwind gewaai het, het jy snags wakker geword van die oordonderende stilte van ʼn see wat die pad saam met die wind gevat het.
So het my ouers dan ook deur een of ander familiekontak op Perdekardraaibaai afgekom. Met baie steil, kort draaie waar skaars ʼn perdekar sy draai kon kry, was ek en my sibbe altyd ʼn opgewonde spannetjie wat deur die motorvensters getuur het om te kyk wie die see eerste sien.
Die vakansiehuise was almal groot genoeg om die groot gesinne van eerwaarts te kon huisves met net die nodige meubels om genoeg spasie vir almal en hul troeteldiere te verseker.
Huishulpe was daar genoeg met die plaaslike bevolking wat in die omgewing gewoon het en altyd ʼn ekstra inkomste verwelkom het.
Daar was so drie huise waar ons om die beurt vakansies deurgebring het. Die kliphuis, soos ons hom genoem het, was heelwat ouer en ons het maar aanvaar dat dit seker die oorspronklike vakansieopstal van die plaas was. Die kliphuis het ons net gebruik indien een van die ander twee nie beskikbaar was nie. Daar was iets vreemds aan hierdie huis, nie bonatuurlik vreemd nie maar ek het altyd die gevoel gekry dat die huis geheime vir homself vashou, geheime wat hy nie met sy bewoners wou deel nie.
Die huis se fondasiemure was gebou met spoelklippe wat volop in die klein bergstroompies wat afvloei na die see was. Al die mure asook die stoepmuurtjie, wat reg rondom die huis gesterk het was met stene gebeitel uit sandsteen gebou. Netso was die boustene vir die boë en versterkings om die buiteste deurrame en vensterbanke ook uit presies gebeitelde sandklip stene wat mekaar ondersteun het om die nodige versterking te gee in plaas van die betonbalke wat deesdae in huiskonstruksie gebruik word.
Stene was destyd redelik skaars dat dit nie altyd gebruik is nie. Die sandsteen kom uit ‘n steengroef nie ver vanaf die kuspad nie en was ook die rede dat die ouer huise op Perdekardraai met hierdie sandstene gebou is. Miskien was dit die vreemdheid van die sandsteen wat dalk porieus genoeg was om vog op te neem die rede vir die koue, mufgevoel wat jou begroet as die huis vir ʼn tyd lank leeg gestaan het. Met al die vensters digtoe en die outydse storm-hortjiesdeurtjies wat die vensters van buite af toemaak het met die outydse skuifvensters het min sonstrale ooit die binnekant van die huis bereik. Soos besoekers intrek en al die vensters oopmaak, het die vars seelug deur die huis gevloei en vir die res van die vakansieseisoen was daar van die muwwe reuk nie sprake nie.
Elke huis het sy eie ingeboude kraak- en fluistergeluide, deel van sy karakter waaraan mens gewoond raak. Hierdie huis het dit erg gehad, veral nadat dit vir so lank toegestaan het. Dan het die onheilspellende gevoel wat langs jou ruggraat af gehardloop jou bloots gery vanaf die oomblik dat jy jou voet oor die huis se drumpel gesit het.
Die donker soldervertrek het nieteenstaande sy morbiede donkerte en koue wat saam met die kleiner vensters gekom het, ons kinders uitgelok om binne te kom. Die een groot rede was die ou klerekas wat gebruik is om allerhande speletjies en legkaarte vir alle ouderdomme te stoor. Die ideale manier om ʼn lewendige kroos en verveelde grootmense op bewolkte en reënerige dae besig te hou.
Teen die oorkantste muur, reg onder een van die dakvensters, was daar ‘n houtkis wat altyd met ʼn groot outydse hangslot gesluit was, ‘n duidelike boodskap dat dit privaat goedere bevat wat aan die eienaar behoort.
As ek my vreemde gevoel aan my ouers genoem het was daar net die gewone “Basta Wiekus!”, wat van my ma gekom het, “Jy is net weer besig om spoke op te jaag!”
Toe ons weer met een van die vakansies voor die kliphuis stilhou het die hare op my arms reeds begin rys toe ek uitklim en die vensters met hul hortjies-stormdeurtjies aanskou. Die hortjiedeur voor een van die kelder se vensters het los van sy een skarnier in die seewind teen die muur geklap. Dit was nie al nie – was daar iemand in die solderkamer? – ek is seker ek het ʼn skadu vlugtig verby die venster sien beweeg. Kon dalk net die weerkaatsing van ʼn seemeeu of ander voël wat verbygevlieg het gewees het, het ek myself probeer oortuig.
Nadat ons die bagasie afgelaai het, het ek my pa se gereedskapkas, wat ons altyd op ons vakansie ekskursies vergesel het, na die solder opgedra waar my pa reeds besig was om die skade aan die deurtjie te besigtig.
Toe ek die deur verder oopstoot om in te gaan voel ek ʼn ‘koue front’ wat my in die gesig slaan en ek voel hoe my nekhare regop begin staan. My oë dwaal na die oorkantse muur en my hart slaan sommer bolomakiesie en mis twee hartslae toe ek sien dat die slot, wat die houtkis altyd gesluit hou, nie meer daar is nie.
“Kom nou Boeta, wat staan jy so asof jy ʼn spook gesien het. Bring daai gereedskapkas hier”, sê my pa.
“Skuus pa, nou net iets snaaks gesien”, terwyl ek skuifel-skuifel na hom toe aanloop waar hy by die skuifvenster uitleun om te sien wat die skade was.
“Wat was so snaaks?”
“Ek weet nie pa, net iets wat uit plek gelyk het. Maar moenie worry, ek verbeel my net.”
Die nuwe skroewe om die skarnier weer ordentlik in posisie te hou het gewerk. Dit het het nie lank geneem nie toe is alles weer honky-dory om die volgende storm te oorleef.
Daardie nag het ek gou aan die slaap geraak, gesus deur die kalmerende gedruis van die branders wat teen die rotse net onderkant die huis breek waar hulle na hul lang Indiese-oseaan-reis uiteindelik hul eindbestemming bereik. Ek was reeds vas aan die slaap toe die see se dreuning deur ʼn irriterende klapgeluid vervang word. Eensklaps was ek wakker. ‘Dit kan tog nie die hortjiedeur wees nie – my pa het dit dan vandag reggemaak,’ redeneer ek met myself. Toe – net een harde klap en die klappery hou skielik op.
Die vroeëre koue wat ek aan my gesig gevoel het skuif nou so al langs my ruggraat af dat nie eens die kombers oor my dit kan keer nie. Ek vroetel langs die bedkassie na die bedliggie se skakelaar om die donker te verwilder want slaap was nou buite die kwessie. Elke geluidjie, die krakende balke soos hulle steeds afkoel en die warmgebakte sinkplate op die dak wat krimp en klink asof iemand op die dak loop, het tot my deurgedring. Die plankvloer het ook sy eie klein kraak-en perkussiekonsertjie gehou soos Polka, my getroue pointer, in die gang af gedraf kom toe sy agterkom dat ek wakker is. Sy spring op die bed en met haar neus teen my nek gedruk lê sy amper bo-op my, loer om my oog te vang en te sê: “Slaap maar weer, ek is nou hier”.
Daar het dit nie geëindig nie. Met Polka saam met my op die bed het dit steeds vir my gevoel asof die plankvloere meer kraak as wat mens sou verwag, kompleet asof iemand stilletjies deur die hele huis sluip.
Dan hoor ek die soldervloer se kraak – dan die trappe vanaf die solder – byna een vir een op hul eie. Van orals af, uit die kombuis die gang af, en hoe verder dit verdof hoe harder en intenser raak die klapgeluide soos die wind aan die ander hortjiesdeure ruk, net om weer vanuit ‘n ander kamer in die huis die gang af te begin, die solder – en so het die skeidslyn tussen droom en bewustheid afwisselend vervaag en opgehelder dat dit gevoel het asof ek heeltyd wakker lê.
Die sagte snorkgeluidjies wat Polka in haar slaap maak stel my gewoonlik gou gerus maar hierdie keer was dit asof sy my onrustigheid kon aanvoel met kort snuffelgeluide terwyl sy haar neus teen my gesig druk todat ek uiteindelik aan die slaap geraak het. Die gewerksaf by die ou houtstoof in die kombuis, waar my pa besig was om die vuur te stook vir koffiewater, het my my uiteindelik laat wakkerskrik.
Met nog ʼn lewende siel wat wakker is het ek uit die bed gespring en met Polka kort op my hakke het ons kombuis toe gestorm. Die ryk koffiegeur het reeds deur die huis versprei waar dit op die warm stoof staan en prut terwyl Polka in afwagting na my kyk terwyl haar oë kort-kort na die beskuitblik bo-op die kombuiskas gedwaal het.
Ek het langs my pa by die stoof gaan staan en my hande bokant die vlamme gevryf wat uit die oop plaat, waardeur my pa die vuur nog verder stook, opskiet. Op die agterste plaat het die koffieperkuleerder geprut soos die kookwater deur die glasborrel opstoot om daarna op die sif-bakkie met die varsgemaalde koffiebone neer te drup.
“Boeta,” sê my pa, “sit solank vir ons en jou ma bekers uit, die koffie is byna reg.”
“Kry die melk in die yskas en sleep sommer die beskuitblik nader. Die ander klomp slaap nog.”
Ek het my hand oor Polka se kop gevryf toe ek sien dat sy nou openlik na die beskuitblik kyk terwyl ek besig was om dit saam met die bekers en melk op die tafel reg te sit. Met my boud so skuins op die hoek van die tafel gehaak het ek my so half voor die stoof tuisgemaak.
Die son het net sy kop oor die baai begin lig en met die vars seebries wat deur die kombuisvenster die lug geroer het, het ek die eerste lekker gevoel gekry dat ons vakansie by die see nou rêrig afgeskop het.
“Het Pa die harde klapgeluid vroegoggend gehoor. Dit het kompleet geklink asof iets teen die huis vasgewaai het,” vra ek.
“Ja,” sê hy. “Ek het reeds gaan kyk. Dit lyk asof die wind die ander deurtjie daar bo by die solder ook nou skoon uit sy skarniere gewaai het.”
“Ek het nogal geskrik, gedog iets val inmekaar.”
“Amper sewentien . . . maar tog ook bietjie bangerig vir spoke, lyk my,” skerts my pa, min wetend hoe naby hy aan die waarheid is.
“Die gereedskapkas is nog steeds daar bo, jy kan my nou-nou help dat ons dit met nuwe skarniere hang.”
My pa was nou maar eenmaal iemand wat altyd gereed was vir enige situasie. Skarniere, skroewe spykers, selfs velletjies vir lekkende krane en gloeilampe was altyd deel van ons vakansie toerusting wat saam gepiekel is, waarheen ons ookal gegaan het.
Terwyl ek so lekker sit en by die venster uittuur, verloor ek my beskuit in die beker koffie terwyl my hart ʼn slag mis. ʼn Groot outydse sleutel swaai liggies in die bries waar dit saam met die ander sleutels onder die muurkas langs die venster hang. Dit moet die outydse slot op die kis se sleutel wees!
‘Dis die eerste keer in my lewe dat ek daai sleutel sien, . . . . dit was nie gister daar toe ons op is kelder toe nie!’ mymer ek. Ek kan my kop op ‘n blok sit dat dit nog nooit daar gehang het nie – In al die kere wat ons in die huis gebly het was die kis altyd gesluit en daardie sleutel het nog nooit tussen die ander sleutels onder die muurkas of enige ander plek in die huis gehang nie.
“Het jy iets gesê?” vra my pa.
“Nee . . . niks nie, net hardop gedink,” sê ek toe.
Nou-nou dink my pa ek glo in spoke as ek nou iets sê, veral as ek vir hom ook vertel dat daar geen slot aan die kis was terwyl ons gister daar bo in die kelder gewerk het nie! Ek sal maar wag totdat ons bo in die solder is voordat ek hom vra of hy dit ook opgemerk het.
“Kom,” sê hy vir my, “Ek en jy gaan kyk gou wat ons met daai deurtjie kan doen om hom weer vas te maak terwyl mamma-hulle die ontbyt regkry.”
Ek kon nie help om bietjie angstig te voel nie, maar dit was toe ek die deur oopstoot dat ek kon voel hoe die hare in my nek penorent staan. Van die deur af kon ek die houtkis sien en hierdie keer was die groot outydse slot stewig in posisie.
“Wat staan jy daar en staar?” vra my pa hier agter my, “Het jy alweer ʼn spook gesien?”
ʼn Rilling gaan deur my hele lyf, dit was nie nou die tyd om iets te wys nie. Ek weet die gespot sal die hele vakansie lank aanhou.
“Nee . . . nee,” stotter ek, “ek het net aan iets gedink wat ek daar in die kombuis gesien het. “Het Pa daardie groot ystersleutel gesien wat daar saam met die ander sleutels aan die sleutelrakkie gehang het?” vra ek.
“Nie juis so opgemerk nie, maar wat maak dit nou saak?”
“Nee . . . niks nie, die ou slot aan die kis het my net laat wonder,” stotter ek.
“Nou ja, laat ons aan die werk spring dat hulle nie vir ons wag met die ontbyt nie.”
Die honger het ingegryp en na ontbyt was ons te besig ons swemklere aan te trek terwyl my ma die strandmandjie pak met genoeg eet- en drinkgoed vir die oggend. Met die strandsambrele onder die arm en met ons strandhandoeke om die lyf gedraai het ons afgesit strand toe. Met al die gehaas het ek heeltemal van die slot en sleutel vergeet.
Na ‘n baljaardery in die see het ons hierdie eerste dag die strand terdeë geniet, genoeg om my gedagtes van die gebeure sedert gister af te lei.
Net voordat die middagson te warm word is my ouers met die woelige tweeling terug na die huis omdat dit te moeilik geraak het om hulle uit die warm son en water te hou. Net ek en my jonger sussie het agtergebly met ‘n sambreel en genoeg geld vir roomys en koeldrank by die strandkafee. Soort van ‘Betaling vir ons dienste om die tweeling besig te hou.’
Terwyl ons in die koelte van die sambreel lê en roomys eet vra ek vir Annatjie of sy iets van die ou kis bo in die solder kan onthou,
“Praat jy van die kis wat altyd met die geroeste ou slot gesluit is?”
“Die einste. Kan jy ooit onthou dat die kis nie met die slot gesluit was nie,” pols ek haar verder.
“Nooit nie. Jy weet self hoe ons al orals vir die sleutel gesoek het maar nooit kon kry nie.”
“Gaan jy my glo as ek vir jou sê dat die kis se slot was nie gister daar was toe ek en Pa die stormdeurtjie gaan regmaak het nie.”
“Het jy geloer wat is in die kis,” vra sy heel opgewonde.
“Nee! Hoe moes ek dit doen met Pa-hulle wat so streng was dat ons nie aan die mense se privaatgoed mag torring nie?”
“Ek wou dit vanoggend doen,” bieg ek, “Maar voor ek kans kon kry moes ek eers weer vir Pa help om die ander stormdeurtjie reg te maak.”
“Jy kon mos vir my . . . .”
“Nee ek kon nie . . . . daar was iets anders.”
“Hoe bedoel jy anders,” vra sy en en kyk na my met groot afwagting op haar gesig.
“Jy ken mos daardie hakkies vir die sleutels daar langs die kombuisvenster onder die boonste muurkassie?”
“Jaa . . . wat daarvan?”
“Vanoggend toe hang daar ʼn groot ystersleutel tussen die ander sleutels, kompleet soos een wat by daardie outydse slot sou pas.”
“Miskien het ons dit net altyd misgekyk ?”
“Onmoontlik – Dit het dit nie gister daar gehang toe ek al die sleutel opgehang het nie,” verweer ek myself vinnig.
“Dalk het Pa dit vanoggend daar gehang,” probeer sy weereens.
“Nee … hy kon nie. Hy het nie eens geweet waarvan ek praat toe ek hom oor die sleutel wat daar hang uitgevra het nie.”
“Nou wat probeer jy eintlik vir my sê,” vra sy en kyk my in die oë so al asof ek lieg en haar probeer bangpraat.
“Net dit . . . . en, ek lieg nie. . . Toe ons die ander deurtjie gaan regmaak het was die kis weer gesluit met daardie outydse ysterslot.”
“En wat het Pa toe gesê?”
“Niks nie, ek het hom nie oor die slot gevra nie, net oor die sleutel wat daar gehang het.”
“En . . . . ?”
“Niks nie . . . , hy het net gevra of ek alweer spoke sien.”
“Ons los dit nou maar daar, ek het seker maar nie mooi gekyk nie,” blaas ek toe die aftog voordat sy ook dink ek sien spoke.
Teen etenstyd het ek en Annatjie opgepak en die pad teen die sandduin uit huistoe aangedurf.
“Vergeet maar van wat ek jou vertel het,” sê ek nog. Nou-nou word daar weer ‘n bohaai gemaak dat ek die kleintjies met spookstories wil bangpraat.
By die huis aangekom sê my pa vir my: “Boeta jy was heeltemal reg oor die sleutel wat daar gehang het.”
“Die eienaar van die huis was hier terwyl julle op die strand was om te hoor of alles in orde is. Hy het gistermiddag hier by ons ʼn draai kom maak om te hoor of ons die sleutel van die houtkis se slot gekry het waar hy dit saam met die ander sleutels gehang het. Voordat ons gister opgedaag het, het hulle die kis leeggemaak – glo die laaste goedjies van sy oorlede ma wat hier gebly het voordat sy twintig jaar gelede by die ouetehuis ingetrek het omdat dit hier te afgeleë en eensaam was.”
Hy vertel verder dat daar blykbaar ‘n paar items in die houtkis was wat die ouma al die jare daarin toegesluit het en die sleutel by haar gehou het. Na haar afsterwe het hulle toe op die houtkis se sleutel afgekom en het hulle besluit om die kis hier op Perdekardraaibaai leeg te maak sodat huurders hul eie goed daar kan stoor terwyl hulle die huis gedurende vakansies huur.
Hulle het dit toe die dag voordat ons sou opdaag gedoen. Die ouma se trourok en haar man se troupak was toe al die jare daarin weggebêre en daarmee saam ‘n paar stokou briewe en foto’s. Dit was duidelik dat hulle ma iets wou bewaar maar nie na haar nuwe tuiste kon saamneem nie.
Die ouma is ʼn paar maande gelede oorlede en die familie het besluit om almal vir die vakansie af te kom na die ou familieplaas om haar lewe te herdenk en sommer om haar as hier op die strand, waar sy so lief was om te gaan wandel, in die see te strooi.
Aangesien die huis toe klaar vir die vakansie uitverhuur was het hulle toe, terwyl die skoonmakers besig was om die huis reg te kry vir die nuwe huurders, die houtkis kom leegmaak.
Die eintlike rede vir die deurmekaarspul was dat hulle oumatjie se silwer vaas met haar assies daarin inderhaas kom haal het aangesien hulle dit die vorige dag, nadat hulle die kis leeggemaak het, weer in in die houtkis toegesluit het, net om seker te maak dat daar nie aan gepeuter word voordat hulle die volgende oggend die as in die see sou strooi nie.
Tyd het hulle ingehaal en hulle het besef het dat ons aanstons sou opdaag terwyl oumatjie se as nog in die houtkis toegesluit was. Hy en sy kinders het dit toe gou kom haal om ons nie te pla as hulle met die vaas met haar as by die huis uitstap nie. Dit was nou maar net die deurmekaarspul toe hulle later ontdek het dat die slot en sleutel steeds by hulle is.
Toe hy sien dat ons reeds afgepak het, het hy besluit om die slot en sleutel terug te bring. Dit was blykbaar toe ons die strand saam gaan verken het en niemand tuis was nie. Hy het toe sommer self die kis weer kom sluit en met die uitgaan het hy die sleutel by die ander sleutels aan die sleutelhouer in die kombuis gehang.
“Die man het om verskoning gevra dat hulle ons dalk ongerief aangedoen het om in te kom terwyl ons nie daar was nie,” het pa verder vertel.
Vroeg die volgende oggend, nadat ek my koffie en beskuit geniet het, met Polka wat sonder om na my te kyk my bewus gemaak het van haar langs my om seker te maak van daai laaste happie wat hare was, het ek die ou sleutel gevat en ons twee is die trappe uit na die solder. Dit was eers toe ek die sleutel in die sleutelgat gedruk het dat ek vir die eerste keer bewus geraak het van die slot wat in die vorm van ʼn groot hart was met die sleutel se handvatsel ook hartvormig. In die sleutelhandvatsel se twee boë was daar die afbeeldings wat gelyk het soos gevleuelde Cupido’s wat hulle pyle in die rigting van die sleutelgat afskiet.
Ek het die slot verwyder en seker gemaak dat die houtkis nou leeg was en sy geheime nou ook uiteindelik met ons gedeel het.
Met staalwol het ek die die sleutel liggies begin skoongemaak en tot my verbasing gesien dat dit nie ‘n staalslot was nie maar een wat uit brons gegiet was. Beide die slot en sleutel was pikswart van al die aanpaksels – Omdat dit in brons gegiet was het dit nie geroes nie en beide die slot en die sleutel het die swaar aanslag van die seelug oorleef.
Ek het die blikkie Brasso wat saam met die ander skoonmaakgoed gebêre word gevat en begin poets. Die resultaat was hierdie pragtige slot en sleutel, met die fynste graverings van Cupido afbeeldings met hul boë en pyle met rankers en wolke wat soos goud geskitter het.
‘Geen wonder die oumatjie was hier op die einde so ongelukkig daar bo in die solder nie,’ het ek stilweg gedink, ‘geen geheime meer tussen ons nie,’ terwyl die slot warm in my handpalm lê.