AgriculturalGeneral

TLU SA vra dat plaasmoorde gestaak word

TLU SA sê in ‘n media vrystelling dat hy met waardering kennis geneem het van President Cyril Ramaphosa se veroordeling van plaasmoorde tydens sy repliek op die presidensie se begrotingsdebat in die parlement, maar dring steeds daarop aan dat hy hom amptelik vir ‘n staking van die aanvalle beywer.

Die veroordeling het gekom nadat die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, hom weer gevra het waarom hy plaasmoorde nie amptelik veroordeel nie. TLU SA het ook al op verskeie geleenthede gevra dat die president ‘n amptelike verklaring oor plaasmoorde moet maak.

President Ramaphosa het gesê dat hy plaasmoorde in die verlede reeds veroordeel het en sal voortgaan om dit te veroordeel. Hy het verder – in Afrikaans – gesê dat elke lewe in die land gelyke waarde het en dat elke moord en geweldsmisdaad sonder onderskeid veroordeel moet word.

“Ons is bly dat die stilte oor plaasaanvalle en -moorde uiteindelik verbreek is,” sê Bennie van Zyl, die Hoofbestuurder van TLU SA. “Maar ons sal graag ook wil hoor dat hy ‘n oproep maak dat dit gestaak moet word.”

Volgens TLU SA se amptelike Insidente Register het die plaasmoordsyfer begin Julie op 30 vir die jaar gestaan en plaasaanvalle op 217.