Die burgemeester van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, me Midah Moselane, en die munisipale speaker, dr Bertie Joubert, het Maandag met die topbestuur van Magalies Waterraad in gesprek getree oor verhoogde waterverskaffing en moontlikhede ondersoek om water beskikbaarheid te verhoog.
Hulle was ook in vergadering met Nasionale tesourie oor finansiële bystand en/of leiding rakende die benarde finansiële situasie van die munisipaliteit. Nasionale tesourie het baie positief gereageer en bevestig dat nasionale- en provinsiale hulp vanaf hulle en die Departement van Koöperatiewe Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake beskikbaar sal wees.
Volgens raadslid dr Bertie Joubert, het die raad van Thabazimbi Munisipaliteite ook Woensdag 21 September 2016 daarin geslaag om die veiling van die balju ter syde te stel. Die veiling sou Donderdag en Vrydag, 22 en 23 September, plaasvind om onder andere gekonfiskeerde meubels en rekenaars te verkoop.
Daar word ook gepoog om die veiling van die voertuie voor 13 Oktober te stop. Suksesvolle samesprekings is gevoer met al die krediteure en ingryping van nasionale tesourie maak dit moontlik om die bates van die munisipaliteit sodoende te beskerm. Verder het nasionale tesourie te kenne gegee dat hulp beskikbaar sal wees om alle hangende- en afgehandelde hofsake volgens wetgewing te hanteer en op te los.
‘n Deeglike forensiese oudit word ook deur hulle befonds. ‘n Spesialis sal vir die volgende 30 dae aangestel word om spesifieke sake wat aanhangig gemaak is teen bestuurders, uit te lig. Vrugtevolle samespreking is ook met die Ouditeur Generaal gevoer.
Kumba Iron Ore en Amandelbult Myn word hartlik bedank vir die voortdurende hulp om daagliks water lekplekke te herstel en gereedskap te voorsien. Die moontlikheid bestaan ook dat hulle kan help met voertuie om die water- en sanitasiedepartemente te help.
