Laai jou eie koerantfoto af op jou rekenaar

Sekerlik een van die beste voordele wat Kwêvoël nou bied, is dat jy jou eie foto direk van die koerant af kan laai, sonder om ’n kopie van die koerant te kry, met die digitale uitgawe van Kwêvoël.

Die digitale uitgawe laat ook genoeg spasie om meer foto’s as die gedrukte uitgawe te laai aangesien daar nie meer ’n probleem is met beskikbare redaksionele spasie teenoor advertensie-spasie nie.

Buiten die voordeel om die foto’s af te laai, kan jy net die foto’s, wat jy vir ouma of oupa wil stuur van jou prestasie, vanaf jou rekenaar per e-pos aan hulle stuur of op jou eie kleurdrukker of by die besighede wat dit kan doen, die foto van jou geheue-stokkie aflaai en vir hulle pos. Dieselfde gebeur natuurlik vir enige nuuswaardigheid wat jy met iemand anders wil deel.

Met die uiters swak ekonomie, gaan uitgewers al hoe meer sukkel om gedrukte koerante aan hul lesers en kliënte te lewer teen ’n bekostigbare prys. Drukkerye in private besit neem teen ’n geweldige tempo af. Die rand se waarde daal en daarmee saam styg die prys van alle kommoditeite, insluitende drukkoste en die prys van veral ingevoerde papier.

Koerante se werklike inkomste is nie afkomstig van die rakprys nie, maar vanaf advertensies wat deur besighede in die koerant geplaas word. Niemand wil vir hulle nuus betaal nie. Thabazimbi se klein gemeenskap is deur publikasies getref wat die hele gemeenskap verwar het ten opsigte van advertensiekoste en gratis nuusverskaffing.

Die een gee nuus sonder dat jy daarvoor hoef te betaal en die ander een vervang die telefoonboek (wie gebruik nog uitsluitlik landlyne?), sonder enige nuus. Besighede moet maar hul eie afleiding maak of hul produk die teikenmark getref het of nie.

’n Stadium is bereik dat die koerant nie meer sy drukkoste kan verhaal uit die advertensies nie aangesien besighede negatief raak teenoor die hoë pryse wat betaal word vir advertensiespasie wat die beste kans gehad het om hul teikenmark te bereik.

Aangesien Kwêvoël die enigste koerant in die dorp is wat die groter kettinggroepe verteenwoordig het, raak dit op die ou einde net ’n voublaadjie vir gemorspos wat die koerant kontraksioneel teen minimale vergoeding moet versprei, die uiteindelike rede dat hy sy deure as gedrukte uitgawe deur sy eie drukkery na meer as 32 jaar moes sluit. Ongelukkig is sewe huishouding nou sonder ’n broodwinner, sommige werkers wat tot meer as 15 jaar diens gehad het.

Daarteenoor bied die digitale uitgawe van Kwêvoël advertensies teen pryse wat wissel vanaf ’n kwart tot een derde van die prys wat jy vir sigbaarheid in ’n koerant sou betaal.

Boonop is daar die gerief dat indien jy ’n adverteerder se nommer sou soek, het jy dit beskikbaar in digitale formaat op jou selfoon. Dit is nie noodwendig die besigheids eienaar wat die nommer soek nie, maar sy kliënt op straat, die persoon wat oor ’n slimfoon beskik wat hierdie inligting dra.

Ongelukkig sien baie besighede nie hierdie gaping raak nie. Die besigheid wat adverteer word op die persoon se selfoon raakgesien, deur die selfoongebruiker.

Beslis ’n goeie rede om eerder digitale advertensies teen laer koste te plaas.

Een van die grootste redes om Kwêvoël se digitale uitgawe te gebruik is dat dit nie meer tot adverteerders in Thabazimbi en omgewing beperk is nie.