Oos Wes, Suid-Afrika bes!

THABAZIMBI – Díe opskrif bly darem waar. Vra maar vir die duisende Suid-Afrikaners wat sak en pak terug is na hulle ‘n slag met hulle meubels oorsee gaan kuier het. En die wat nog ander kant die see bly sê almal hulle verlang hulle vrek na ons land en sy mense.

Daarom het die organiseerders van die Thabazimbi Apiesdoring karnaval besluit dit sal die tema wees van 2010: Oos Wes, Suid-Afrika bes!

Stalletjies sal almal iets vertel van wat ons die meeste geniet in ons vaderland: Sonskyn, rugby, Afrikaans – ons taal, jou kerk, ons mooi meisies, boerewors, ons jag-kultuur ens. En van jag gepraat – die bosveld van Thabazimbi is nie verniet bekend as jagwêreld nie. Daar is letterlik honderde kilogramme wildsbiltong te koop: rooibok, koedoe, eland, blou wildebees, gemsbok – noem maar op! En omdat dit skenkings van kerklidmate was, klink die pryse ook soos skenkings. Karnavalgangers sal getrakteer word met ou jag lekkerneie soos pap en wildslewer, pap en pofadder en pap en skilpadjies! En vir die groenes onder ons – dis nie regte skilpadjies wat geslag word nie! Soek jy ‘n leidraad? Netvet, lewer, dikderm, spek ens… Dit bring jou al nader aan die geheim agter die delikatessens.

Daar is roosterkoeke, bakoondbrood en nat beskuit. En vir die hoofgereg kan jy kies tussen skaap op die spit of afval en stampmielies.

Een van SA se groot bates is ons top kunstenaars en van hulle is Juanita du Plessis seker een van díe gewildstes! Sy is hierdie jaar die hoofgaskunstenaar, maar Jammies Jamneck met sy humor en die gewilde paartjie van die groep Hoot en Annie sal ook optree.

Die 3de Thabazimbi Apiesdoring karnaval word gehou DV Saterdag 7 Augustus van 9vm tot 3nm by die Hervormde kerkterrein net buite die dorp. Die beste van alles is: toegang is gratis! Kom voel,  sien, hoor en proe  waarom jy in die mooiste en beste land in die wêreld bly!

Vir navrae kontak Isak Joubert (083 488 6357) of Hennie van der Linde (083 507 0335).