Suid-Afrika se Inperking-resultate net so haglik as lande met min beperkings
Inperking het wêreldwyd tot gevolg gehad dat die meeste van die lande se ekonomieë so afgeskaal is dat die wêreld nou in ’n resessie verkeer waar slegs reuse skuld die meeste lande van meer sterftes en ’n totale ramp kan vrywaar.
Suid-Afrika gaan nou bykans vir vyf maande gebuk onder die ergste inperking regulasies ter wêreld maar steeds vergelyk Suid-Afrika se statistieke ten opsigte van verspreiding van die Covid-19 virus eerder met die haglike toestande in die VSA en Brasilië, twee land wat baie laks was om inperking in te stel en toe te pas, selfs ten opsigte van die dra van gesigsmaskers en sanitasie.
Volgens kundiges wys die beskikbare data oor die pandemie dat die inperking-teorie nie betroubaar is nie en dat dit geen invloed het op hoe vinnig die infeksie versprei nie.
Die skade wat die inperking in Suid-Afrika aangerig het, is duidelik te sien aangesien dit nie net die ekonomie onherstelbare skade aangerig het nie, maar ook aan sy mense.
Die stigter van die “Bevry die kinders – Red die Nasie” projek, John Taylor, wat op die regte van individue fokus, glo dat die Wêreld Gesondheid Organisasie (WHO) en verskeie regerings tans besig is om hierdie regte te skend.
In ’n opebrief aan die epidemiese-, mediese- en wetenskaplike-gemeenskap wat by die Covid-19 pandemie in Suid-Afrika betrokke is sê hy dat ’n magtelose gevoel tans heers om die koers waarop Suid-Afrika hom tans bevind waar die regering besig is om die toekoms van die land vernietig en daardeur die lot van sy mense verseël word.
Van tyd tot tyd was daar media verklarings deur wetenskaplikes en mediese deskundiges, die mees onlangse deur professor Shabir Madhi wat op die regering se raad van advisers vir Covid-19 dien, dat hulle aanbevelings grootliks deur die regering geïgnoreer word in die besluite wat geneem word.
Buiten dat die inperking onmiddellik gestaak moet word moet daar ook ’n einde kom aan die grootskaalse korrupsie binne die regeringsgeledere.
Volgens hom is dit duidelik dat WHO die vrees vir dood en die proses van doodgaan uitgebuit het in hulle totale inperking-benadering.
Met die vooruitsig dat Covid-19 die meeste sterftes onder ouer mense en mense met ernstige siektetoestande wat hulle weerstand afbreek sal voorkom, kan die vraag gevra word of dit dalk moontlik was dat die besluitnemers by WHO en wêreldregerings hulself as moontlike slagoffers van die siekte geïdentifiseer het.
Het dit nie dalk gelei tot die inperking-besluite wat uiteindelik die wêreld tot stilstand gedwing het nie?
Weens die inperking en geleidelike verslapping van beperkings strategie, is honderde miljoene mense wêreldwyd nou blootgestel aan verhongering en siektes wat deur die inperking vererger is.
In teenstelling hiermee is die regering, staatsdiensamptenare, semi-staatsdienswerkers en almal wat ’n salaris van die staat ontvang, se salarisse gewaarborg en het hulle steeds nog nie die werklikheid van die inperking soos die mense wat van salarisse afhanklik is of hul eie inkomste moet verwek ervaar nie. Vir die meeste van hulle is dit ’n uitgerekte betaalde vakansie sonder die bekommernis om te werk.
Beskou die sogenoemde “geleerde ouer mense” en diegene in magsposisies hul eie lewens as so ver bokant die lewens van die jonger generasie verhewe dat hul eie lewens eerder gespaar moet word?
In die lig daarvan dat griep elke jaar sowat 11 000 menselewens in Suid-Afrika eis, sou dit nie eerder die aanvaarbare dodetal wees voordat besluite oor drastiese inperking geneem word nie?
Suid-Afrika staar tans meer sterftes in die gesig as gevolg van die ekonomiese afswaai en siektes wat met ondervoeding geassosieer word as wat Covid-19 gaan eis, sê Taylor.