Beirut inwoners soek antwoorde na vernietigende ontploffing
Ontstoke inwoners van Beirut in Libanon het hul ergernis teenoor die regering uitgespreek nadat ’n verklaring uitgereik is dat nalatigheid tot die vernietigende ontploffing gelei het waarin ten minste 135 mense gesterf en ’n verdere 4000 beseer is.
Die voorval het die middag om 15:00 plaaslike tyd op Dinsdag 4 Augustus plaasgevind toe 2 750 ton ammoniumnitraat, wat onder onveilige toestande in ’n skuur op die Beirut hawe gestoor is, ontplof het.
Die ontploffing het sowat 300 000 mense dakloos gelaat.
Ammoniumnitraat word in die landbou as kunsmis aangewend. Nog ’n aanwending is in die vervaardiging van springstowwe. Volgens bewering is die ammoniumnitraat reeds in 2013 daar gestoor nadat daar beslag gelê is op die boot wat dit vervoer het.
Die boot het op sy vaart vanaf Georgia na Mozambique by Beirut aangedoen nadat dit tegniese probleme ontwikkel het. Die boot het intussen blykbaar gesink.
Volgens die hoof van die Beirut hawe asook die hoof van die hawe doeane is daar herhaaldelike versoeke aan die owerhede gerig dat die chemikalieë uitgevoer of verkoop moet word om die hawe se veiligheid te verseker.
Intussen word sosiale netwerkgebruikers versoek om in gedagte te hou dat sulke vars nuus ’n vrugbare tyd is om te spekuleer en vals inligting te versprei. Die beroep word dan ook gedoen om nie vals inligting op die internet te deel nie.
Dit volg nadat gerugte op die internet die rondte doen dat die ontploffing onder andere veroorsaak is deur ’n atoombom wat deur die VSA of Israel of Hezbollah op die skuur afgevuur is.