Wes-Kaap: Dogtertjie -3, dood na skote op huis
’n Drie-jarige dogtertjie, Merilyn Adams, is Dinsdagaand dood nadat sy deur ’n koeël in die kop getref is toe daar van die straat af skote op die gesin se huis afgevuur is.
Marilyn het op haar ma se skoot gesit terwyl sy en haar ouers die aand omstreeks 20:30 voor hul huis in Heather Park, Eerste Rivier, om ’n vuurtjie gesit het, toe daar op hulle gevuur is.
Volgens die oudste suster het sy saam met twee van die gesin se ander kinders en ’n vriend binne die huis gesit toe hulle die skote hoor en agter die bank gaan skuiling soek het.
Toe die skote stop het haar pa haar ma in die huis ingestoot. Dit is toe dat haar ma voel dat haar arm nat is en sien dat haar dogtertjie se gesig vol bloed is.
’n Familielid het met haar na die hospitaal gejaag maar sy is op pad soontoe dood in haar ma se arms.
Volgens die voorsitter van die Concerned residents Against Crime, Julian Unthank, word daar aanvaar dat die kote deur bendelede op die verkeerde huis afgevuur is.
Nadat Merilyn geskiet is, het iemand vanaf ’n nabye huis geskreeu waarna skote op die verdagtes afgevuur is.
Die verdagtes het hierna op die vlug geslaan.