Suid-Afrika het genoeg gehad van leuens en ondoeltreffende maatreëls
Die leier van die Demokratiese Alliansie (DA), John Steenhuisen, het in sy reaksie op Cyril Ramaphosa se toespraak Sondagaand, gesê dat die president so gedetermineerd is om verantwoordelik te omseil dat hy nou die einste mense wat hy moet beskerm, die skuld vir die mislukte inperking-projek gee.
Hy sê dat die herinstelling van die verbod op alkohol produkte asook die aandklokreël trek die aandag af van die werklike probleem naamlik die regering se onvermoë om geskikte toets en behandelings fasiliteite daar te stel.
Die DA beheerde Wes-Kaap is die enigste provinsie wat die inperking suksesvol aangewend het deur die inrigting van vyf tydelike hospitale. Hierdie hospitale is volledig toegerus met personeel en toerusting, nie net rye beddens wat by meubelwinkels aangekoop is, geen personeel of suurstof infrastruktuur nie.
Buiten een hospitaal wat deur die privaat sektor in die Oos-Kaap gebou is, is daar geen funksionele tydelike hospitaal in enigeen van die ander provinsies nie.
Die argument dat alkohol trauma die stelsel onder druk sit is net om hul mislukking toe te smeer. Die aandklokreël is net ’n illusie van beheer want duidelik het die regering geen beheer oor die werklike saak, naamlik toets en versorgingsfasiliteite nie.
Die maatreëls wat jou verbied om familielede te besoek ondermyn mense se waardigheid en tas juis dit aan wat vir mense belangrik is. Hy het gevra hoekom mag jy nie jou familie besoek nie, maar dis reg om ’n casino te besoek of kerk-toe te gaan.
’n Meesterplan ontbreek duidelik, sê Steenhuisen. Skrap planne om die SAL te red, hou op om grafte te grawe en stop om geld te mors op dinge soos die belaglike motorfiets ambulanse.
Betrek kenners uit die privaat sektor en neem besluite wat tot voordeel van Suid-Afrika sterk en nie die ANC nie.