Inperking verleng, maar basies onveranderd
Die landswye inperking wat veronderstel was om Donderdag om middernag te eindig is, soos reeds bekend, vir nog twee addisionele weke vanaf Vrydag 17 April verleng tot 30 April.
Die enigste troos wat president Ramaphosa aan die miljoene Suid-Afrikaners wat hulle inkomste en toegang tot voedsel en water verloor het, kan bied is om voedselpakkies wat versprei sal word asook dat watertenks geïnstalleer sal word te beloof.
As dit gedoen word op dieselfde beginsels as wat die beloofde toelaes vir kleinsakeondernemings hanteer word, word die hoop uitgespreek dat die voedselpakkies en watertenks nie eers in plek sal wees sodra die volgende inperking afgekondig word nie.
Dit was blykbaar belangriker om weereens die verbod op die verkoop van sigarette en drank te herbevestig. Die rede hiervoor is seker omdat dit die een visuele en verbale manier is om die regering se persoonlike betrokkenheid op sy beste te vertoon.
Net soos ek, self byna 70, is daar baie ander mense wat die rede vir inperking besef, al is dit net om die ouer mense bo 65 gerusstelling te gee. Dit sluit natuurlik sekerlik ook die president en ’n groot deel van sy kabinet asook talle regeringsamptenare, regters en professore – al die wyse raadgewers, in. Vreemd genoeg is dit die standaard inperking wat die meeste Afrika leiers, wat ook al lank in die tand is, ingeslaan het. Dit nieteenstaande die feit dat Afrika die kontinent is met die laagste gemiddelde ouderdom van al die kontinente, toevallig ook die ouderdomsgroep met die minste sterftesyfer in Europa en die VSA.
Nommer een op die lys van vergunnings is natuurlik mynbou wat teen produksievlakke van 50% mag produseer, met ’n hele klomp voorwaardes kragtens kwarantyn en infeksie toetsing fasiliteite op die mynperseel. Die ministers en hul kaders se belange in mynbou het seker grootliks daartoe bygedra aangesien die regering steeds huiwerig is om die res van die ekonomie aan die gang te kry.
Toestemming word wel aan werkswinkels verleen dat hulle met besigheid mag voortgaan indien, en slegs indien, hulle deel is van die bedryf waar slegs onderdele mag verskaf en herstelwerk gedoen word aan voertuie wat vir noodsaaklike dienste aangewend word.
Dit is ook ’n bepaling van die nuwe toegewings dat daar deeglik boekgehou moet word aan wie onderdele verskaf word. Dieselfde sal seker ook geld vir die werkskaarte van voertuie wat herstel word. Gaan die polisie ook hier polisiëring doen om te sorg dat dit wel so geskied, inplaas daarvan dat hulle die broeiende onrus van sosiale opstand en plundery probeer voorkom. Gee vir die mense werk dat hulle ’n inkomste kan verdien en blus sodoende die vuur wat hierdie kookpot laat dreig om oor te kook.
Met ander woorde, daar word van die besigheid verwag om sy volle personeel te betrek net om vir sê, tien persent van sy kliënte tot diens te wees. So mag die werktuigkundige net aan voertuie werk wat vir noodsaaklike dienste aangewend word en al staan ’n privaat voertuig, “Daar sal nie aan daardie voertuig gewerk word nie”, of daar onderdele is of nie. Niemand anders as ons geagte minister van polisie kan so iets beter verwoord nie.
Die werktuigkundige moet dus eerder ledig, op die werkgewer se onkoste, daar sit maar onderdele mag hulle nie vir daardie voertuig kry nie en is daar geen manier dat dit die eienaar se omstandighede en die van die werkers bevoordeel nie. Die enigste voordeel is dat die werker nou oor ’n permit beskik om tussen sy huis en die werk te pendel.
Die hele werkswinkel staan dalk vol voertuie wat herstel moet word. Een hiervan is dalk ’n ambulans met ’n stukkend gestampte hooflig en miskien remme wat gediens moet word, tog is dit die enigste voertuig waaraan gewerk mag word. Geen wonder die land se ekonomie lê op die ashoop nie.
Die regering was nog altyd gekant teen dié entrepreneurs wat die werklike werkverskaffers is en die ekonomie aan die gang hou. Vir die regering verwys die woord entrepreneur na die persoon wat vrugte en groente en diesmeer op die sypaadjies smous. Hierdie is die persoon wat hulle belangrik ag, want hy of sy sorteer hul eie heil uit. Net soos die eersgenoemde en miskende entrepreneurs, ly hierdie entrepreneurs ook onder dieselfde kortsigtige benadering.
Die werktuigkundiges mag nie aan die ander voertuie werk om die agterstand uit die weg te ruim nie en sodoende sorg dat daar inkomste is sodra hulle eendag weer die werkswinkel ten volle kan benut. Indien hierdie voertuie reg is vir aflewering sodra die inperking verby is, kan hulle geld vir hulle dienste ontvang en intussen sorg dat die besigheid produktief bly.
Net ’n dwaas sal sy personeel betaal om op ‘n gereedheidsgrondslag te wees indien ’n enkele voertuig of twee gediens moet word. Dieselfde geld vir die eienaar van die onderdelewinkel wat net onderdele mag verkoop vir herstelwerk aan noodsaaklike voertuie.
Dit herinner my aan die grappie van die oom wat vir sy buurman gaan kuier het en bietjie lank weggebly het. Die tannie was bietjie lywig en het sommer te voet kortpad deur die mielieland gevat na die bure se opstal om hom te gaan soek. Sy het gehoor toe haar man vir sy buurman sê dat sy so breed soos ’n stroper tussen die mielies deur nader beweeg.
Die aand toe manlief bietjie toenadering soek het sy hom weggestamp met “Jy is seker mal as jy dink dat ek hierdie stroper vir net een mielie gaan start.”
Die regering se benadering tot besigheid is op hierdie selfde vlak waar hulle verwag dat die hele besigheid moet net regstaan vir ingeval hulle die besigheid se dienste gaan benodig. Mens kan net wonder wat gaan gebeur indien die besigheid ’n kontrak van die staat het om voertuie te diens en die diensverskaffer weier om die werk te doen as gevolg van die negatiewe koste-implikasie waarvoor hy verantwoordelik is. Die kontrak sal beslis nie weer hernu word nie.
Die vrees van moontlike besmetting met die virus verdwyn by mense as hulle gekonfronteer word met die werklikheid daarvan om van honger dood te gaan. Mense word gedryf in hul pogings om kos te bekom en ignoreer dus die beperking op beweging en persoonlike afstand, al is dit ook om besighede te stroop en inbraak of geweldsmisdaad te pleeg.
So mag slegs alkohol vir noodsaaklike goedere soos in sanitasiemiddels vervoer word. Methanol alkohol is in elk geval giftig vir menslike gebruik en jy sal daarvan doodgaan indien jy dit sou probeer drink.
Net so kan die brou- of distilleer-proses nie afgeskakel word en eenvoudig net weer voortgaan sodra daar besluit word dat die drankwinkels en restaurante weer mag besigheid doen nie. Wat word van die surplus drank wat vervaardig word indien dit nie na alternatiewe bergingsfasiliteite vervoer mag word nie. Uiteindelik sal die brou- en distillasie prosesse gestaak moet word net dat dit later weer teen geweldige kote aan lyn gebring word.
Mens wonder dan tog of die ministers ooit weet waarvan hulle praat toe daar bepaal is wat is noodsaaklik en wat nie. Jy kry eerder die indruk dat twee lysies vir die ministers se assistente gegee is waarop hulle moes neerpen wat hulle dink noodsaaklike en nie-noodsaaklike items is. Jy mag nie ’n vloermop koop nie, nie eens as jy die stukkende een vir die winkelier wys nie. Bring dit dalk te veel slegte herinnerings terug van die dae toe baie mense nog hul eie vloere moes was?
Alhoewel brandstof se prys volgens die AA heelwat behoort te daal, gaan die prys steeds daarvan afhang of die raffinaderye, wat nou toestemming het om met hul werk voort te gaan, genoeg brandstof gereed sal hê vir die brandstofverskaffers se verspreiding na die onderskeie vulstasies regoor die land. Indien dit nie gebeur nie kan motoriste eerder ’n prysverhoging verwag.
As alternatief kan die regering besluit om die verskil in prys van die goedkoper brandstof aan te wend om op te maak vir wat hulle aan die verlies aan belastinginkomste, veroorsaak deur die verbod op veral die verkoop van sigarette en alkohol, om nie eens die verlies van belastinginkomste op die belasbare inkomste van besighede wat gedwing was om hulle deure tydens die inperking te sluit, in ag te neem nie.
Dit was die geval toe te min griepentstof ingevoer is. Beslag is op die besendings van verskaffers van die entstof gelê met die gevolg dat die gewone mense wat nie by een van die ketting-apteke besigheid doen nie, toegang hiertoe ontsê word. Daar is beslis nie soveel gesondheidswerkers om die beslaglegging te regverdig nie en dit kan ook nie toegedien word aan persone wat positief vir die coronavirus getoets is nie.
Kleiner apteke, die eenman sake, moet nou wag om te hoor of daar dalk bietjie gaan oorbly wat aan hulle toegewys kan word. Met die manier waarop baie medisyne in die gesondheidstelsel eenvoudig net verdwyn bestaan daar min hoop hiervoor.
Nog ’n toegewing is dat loodgieters, elektrisiëns, glaswerkers en kontrakteurs wat herstelwerk aan dakke doen, dringende herstelwerk mag doen. Dit is onduidelik of hardewarewinkels en kleinhandel elektriese winkels, wat die nodige materiaal moet verskaf, ook hulle personeel voltyd aan diens moet hê.
Kinders mag nou ook tussen ouerhuise vervoer word met die bepaling dat die ouer ’n skeibriewe of ’n hofbevel en die kinders se geboortesertifikate moet toon indien hulle voorgekeer sou word.
Inligting wat al hierdie dinge aan betref wat na die publiek deurgevoer word, is maar gebrekkig en mens krap maar oral op die internet en luister na die radio om agter die kap van die byl te kom.
So hoor mens oor die nuus dat by party supermarkte mag daar nou nie meer gevriesde groente verkoop word nie, waarom nie? Wil hulle nou die nasie leer kook en wegbreek van die besige gesin se vinnige manier van kos voorberei. Hierdie gesinne se tyd is beperk omdat hulle werk om vir hulle gesinne te sorg. Ek glo daar is baie mense wat vir hulle self kos maak en eerder gevriesde as vars produkte vir hulself en hul gesinne voorsit.
Met so ’n sterk wilskrag om die mense van hulle af weg te hou, glo ek die regering sal nie wyfel om die inperking met nog ’n maand te verleng solank dit die doodsklok van hul eie drumpel af weghou nie – bogger die gepeupel wat hard werk vir oorlewing om vir hulle en hul gesinne te sorg, dié mense wat sonder die staat se welsyn kan klaarkom en nie ’n las is vir die staat nie, maar nou tot armoede afgegradeer word.
So baie van die beperkings kom eerder neer op ’n oorlog- of boikotsituasie waar daar ’n groot skaarste aan nodige middele is wat gereguleer moet word. Min van die nie-noodsaaklike items maak enigsins sin nie.
Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël