Motor- en Motorfiets-skou bring lewe na Thabazimbi
As iets gedoen moet word, is dit nou die tyd om dit te doen. Dit gaan eenvoudig daaroor om nuwe lewe na die dorp te bring en daarmee saam ook om iets vir die gemeenskap van Thabazimbi te doen.
Hier praat ons nou van die Toy Run wat Maandag 16 Desember deur Liquid in Thabazimbi aangebied en deur tussen 300 en 400 mense bygewoon is. Aangesien toegang gevra is in die vorm van n speelding was dit moeilik om tred te hou met hoeveel mense in totaal die geleentheid bygewoon het.

Alhoewel dit basies ’n Toy Run was waar jou toegangskaartjie in die vorm van ’n speelding was, het die Motor- en Motorfiets-skou wat daarmee saam aangebied is, heelwat mense van buite Thabazimbi se grense, sowel as inwoners getrek met inskrywings van so ver as Pretoria en Rustenburg. Hier kon die mans en dames bietjie met hul masjiene in Thabazimbi kon pronk en wys waaroor die liefde vir hierdie brullende, opgekikkerde-standaard meganiese wonders gaan.
Elandstraat was vanaf die oggend afgesper met een baan in elke rigting om ruimte vir die motors en motorfietse te bied. Deurentyd was daar goeie samewerking tussen die verkeersafdeling, motoriste en besoekers waar almal die ander in ag geneem het.
Die motor- sowel as die motorfietsafdelings het ongeveer 40 inskrywings elk getrek terwyl baie ondersteuners van buite hul mede klublede wat ingeskryf het hier op Thabazimbi kom ondersteun het.
Die motors het meegeding oor watter kar die laagste aan die grond was, die mooiste vertoon en gebrul het sonder dat dit klink asof die kleppe so rondbons dat hulle enige tyd uit die enjin kan klim.
Netso in die motorfiets afdeling waar deelnemers meegeding het vir die beste rewolusies opjaag en spin en watter fiets die mooiste was. Die Bikers het nog verder meegeding in afdelings soos “Tyre” gooi en bakstene optel.
Die eerste drie plekke van die kategorie-wenners het elkeen ‘n trofee ontvang.
Eben en Sandra Jansen, eienaars van Liquid, kan gelukgewens word met ’n aanbieding wat groot byval met die gemeenskap en besoekers van buite gevind het en wat hulle gerus volgende jaar weer kan aanbied.
Van vroeg af het die mense lekker saamgekuier met motorfietse en motors wat sterk onder bespreking was.
Aan teruggee aan die gemeenskap van Thabazimbi en wyer het ook nie ontbreek nie. Die geskenke wat met die Toy Run ingevorder is, gaan aan verskeie organisasie wat die lewe vir behoeftige kinders meer draaglik maak oorhandig word. Die organisasies wat baat hierby gaan vind sluit in Elbro se sopkombuis, behoeftige kinders by Bonanza en Thabang kinderskuilte.
Tydens die dag is daar ook geld ingesamel om vir een van die dorp se klein inwonertjies, Ethan Visagie, wat aan ’n seldsame spierdisfunksie ly, ’n spesiaal aangepaste skootrekenaar te koop waarmee hy ook kan werk.
Voor van links: Marius en Rozanne Visagie saam met Ethan vir wie daar geld ingesamel is om ’n spesiaal aangepaste skootrekenaar te koop. Agter Pierre Loots saam met Ulandi en Brian Steenkamp (lede van Thaba Angels) saam met hul kinders, Evan en Milandi Steenkamp. Die ander lede van Thaba Angels wat ook die saak ondersteun het, is Bertie en Chericé Steyn. Die Thaba Angels het die wiele aan die rol gesit om geld in te samel om die Visagie gesin by te staan om die lewe vir Ethan makliker te maak. Steen-optel was ook een van die kompetisies waardeur fondse ingesamel is vir Ethan
Thaba se eie “Angels” is met die projek gemoeid en tydens die dag is daar deur donasies, een van die items wat opgeveil is asook die steenoptel-kompetisie, sowat R12 000 ingesamel om die skootrekenaar aan te koop. Verder bydraes sal hopelik die balans hiervoor opmaak.
Indien u verder tot hierdie projek wil bydrae, skakel gerus vir Brian Steenkamp by 082 380 2153.
Geld vir voer aan die droogtegeteisterde Karoo-boere is ingesamel deur die veiling, sticker en badges wat verkoop is asook ’n gedeelte van die inskrywings wat vir die Motor- en Motorfietsskou ontvang is. Dit het darem bygedra tot ’n stewige R10 000 wat hiervoor aangewend kan word.
Verskeie plaaslike besighede ook hul deel bygedra om die dag moontlik te maak soos die verskaffing van addisionele toiletgeriewe deur JC Havenga en die groente, rys en piesangs deur Jorrie Jordaan.
Liquid sien kans, op grond van die sukses wat hulle met hierdie aanbieding behaal het, om ’n soortgelyke dag gedurende Meimaand volgende jaar aan te bied.