BusinessMotors

Haval H9 staan nie terug vir duurder Nutsvoertuie

Die vlagskip van Haval Motors, die Haval H9, die eerste vier-wiel-aangedrewe Nutsvoertuig uit die Haval stal van GWM van China, is reeds verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse motorpubliek bekendgestel, aanvullend tot die reek kleiner nutsvoertuig-modelle, die 1,5 liter H1, H2 en H6.

Gedurende die kort tydperk sedert die H9 plaaslik beskikbaar gestel is, het die H9 bewys dat hy glad nie terug hoef te staan nie en selfs beter vaar as baie duurder modelle in dieselfde klas sover dit werkverrigting en luukshede aan betref.

Luukse ongekend in H9 se prysklas

Praktiese gemak en luukse toerusting is standaard vir die H9 met sy drie rye sitplekke met leerbekleedsel en die elektries verstelbare bestuurdersitplek wat insluit ruglening met rugverstelling asook geheue funksies vir jou spesifieke sitplekstelling. Die voorste sitplekke sluit ook verstelbare ventilasie en massering in. Verder is daar ook verskeie sitplek-opsies vir die tweede en derde ry sitplekke.

Klimaat-beheerde lugversorging, gevorderde multi-media stelsel met ’n 8-duim raakskerm asook geïntegreerde satelliet navigasie beteken dat die H9 baie goed toegerus is. Moenie van die gemoedsrus verstelbare kleur-beligting binne die kajuit vergeet nie.
Verder is daar vir die bestuurder se gerief die 7-duim LCD raakskerm vir die analoog instrumentasie en verstelbare kleur wat by die terrein aanpas om die visuele waarneming te verbeter.

Die groot verskeidenheid bergings-vakkies is deur die hele kajuit versprei in die deure asook in die sentrale konsole.

Die groter 7-sitplek H9 word aangedryf deur ’n vier-silinder 180kW 2.0 liter petrol met dubbel-turbo wat ook die kragbron van die H6C is. Die enjin se maksimum kraglewering is teen 5 500 r.p.m. en lewer 350 Nm. wringkrag vanaf 1 800 r.p.m. tot by 4 500 r.p.m. wat dan ook uitstekende wegtrek en versnellings vertonings lewer.

Alhoewel die kragbron deur Haval ontwikkel en gebou word, maak Haval gebruik van die Duits ontwerpte ZF 8-spoed outomatiese ratkas wat seepglad werk om die dryfkrag na die wiele oor te dra.
Die bestuurder kan kies uit ses opsies van aandrywing (Outo, 4L, Sport, Sand Sneeu (nat) weer en Modder) deur ’n multifunksionele draaiknop op die sekondêre instrumentpaneel wat sal verseker dat die stelsel outomaties die beste ry en rem kragte kies om die beste opsie van kragoordrag te bied. Die elektronies rathefboom of pedaal kan gebruik word om die ratte te verander.

Die Auto opsie word ingespan vir die algemene padgebruik, teer en grondpad, met kragoordraging na al vier wiele om ’n gemaklike rit te verseker. Die ander opsies is selfverduidelikend om die beste werkverrigting vir die spesifieke padtoestand te verseker.

Veiligheid van die insittendes is nie afgeskeep nie met sy-impak stange, voor en agter skok-absorberende sones en ’n energie-absorberende stuurkolom.

Verder verskaf die “alle-rigting” lugsakke en veiligheidsgordels en ISO-FIX sitplek-hegtings en banddruk monitors asook die bestuurder status waarneming-stelsel addisionele veiligheid aan die insittendes.

Elektroniese bestuurder hulp sluit in ABS, BA (rem bystand) en ESP, HAC (Heuwel wegtrek beheer), RMI (rolbeweging bystand) asook CTA (Dwarsverkeer waarskuwing), en LCA (rybaan verwissel waarskuwing).

’n Radar waarnemingstelsel kyk heeltyd uit vir voertuie links en regs in die blindekol en indien daar ’n dreigende situasie ontwikkel word waarskuwing gegee deur ’n alarm asook ’n liggie in die deur aan die kant vanwaar die gevaarlike situasie dreig.

Die radarstelsel registreer ook bewegende voorwerpe agter die voertuig terwyl die voertuig agteruitbeweeg.

Die enigste in hierdie modelreeks wat plaaslik beskikbaar is, is die H9 2.0 liter Petrol 4WD Luxury vanaf R609 900, wat ’n uitstekende markprys is sonder om enige rygerief of luukshede prys te gee.

Naverkope diens sluit in 5-jaar/100 000 km waarborg, 5-jaar/60 000 km diensplan en 5-jaar/onbeperkte km pad-bystand.