General

Indië: 40 Sterf in brand

Veertig mense het Sondagoggend omgekom nadat ’n brand uitgebreek het in ’n 4-verdieping fabriek waar hoofsaaklik skooltasse vervaardig word.

Die gebou is in die dig bevolkte ou kwartiere van die Indiese hoofstad Delhi en sowat 100 mense het in die fabriek geslaap toe die brand uitgebreek het. Meer as 60 mense is uit die brandende gebou gered.

Die brand wat op die onderste verdiepings begin het, het vinnig na die derde vloer, waar die werkers geslaap het, versprei.

Om sake te vererger bestaan die area waar die gebou geleë is uit nou stegies wat dit moeilik vir reddingswerkers gemaak het om by die brandende gebou uit te kom. Slagoffers is een vir een op die skouers van die noodwerkers uit die gebou gedra nadat brandweermanne die roosters voor die vensters uitgesny het om die gebou binne te gaan.

Volgens die plaaslike brandweerhoof het die gebou nie oor ’n geldige brandlisensie beskik nie en is ook onwettig as ’n fabriek bedryf.

Indiese stede word gereeld deur dodelike brande geteister as gevolg van swak beplanning en laksheid om veiligheidsregulasies te implementeer.