AgriculturalBusiness

TLU SA waarsku oor gevolge vir verbruikers na veilings opgeskort word

TLU SA is geskok na die aankondiging dat lewende hawe veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes tot verdere kennisgewing deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling opgeskort is, na die uitbreking van bek-en-klouseer in die Molemole-distrik van Limpopo.

“Dit is ‘n groot slag vir die vee- en wildboere in die land, wat alreeds deur knellende droogte op hulle knieë gedwing word,” sê mnr. Henk van de Graaf, die streeksvoorsitter van TLU SA Noord. “Die verkoop van kuddes was die enigste oorblywende oplossing vir boere wat nie meer voer vir hulle diere het nie en nou word hierdie uitweg ook weggeruk.”

TLU SA besef dat daar nou ernstig opgetree moet word om die hoogs aansteeklike siekte te voorkom, maar glo nie dat die opskort van veilings die probleem gaan oplos nie. Die regering moet eerder seker maak dat die maatreëls wat oorspronklik ingestel is om bek-en-klouseer te verhoed, streng nagevolg en geïmplementeer moet word.

“Die verbod op veilings hou ook baie ernstige gevolge vir die verbruiker in, veral oor die feesseisoen wat om die draai lê,” sê mnr. Van de Graaf. “Verbruikers moet hulle daarop voorberei dat die prys van vleis en vleisprodukte drasties gaan verhoog. Vleis gaan ook baie skaars word.”

TLU SA gaan ‘n databasis van kopers en verkopers van vleis saamstel wat boere dan die geleentheid sal gee om steeds bek-en-klouseervrye vleis te verkoop. TLU SA ondersoek ook die moontlikheid om ‘n direkte verhandelingsplatform van skoon en veilige vleis in te span om boere te help.

Lokfoto: Argief Facebook