Pakistan: 64 Dood toe trein brand
Ten minste 64 passasiers aan boord van ’n trein in Pakistan is dood toe ’n brand minstens drie van die passasierswaens in vlamme gehul het. Die voorval het gebeur terwyl die trein tussen die stede Karachi en Rawalpindi gereis het.
Volgens die land se minister van spoorweë, Sheikh Rashid Ahmed, is die vuur veroorsaak toe ’n gassilinder ontplof het terwyl van die passasiers besig was om ontbyt voor te berei.
Die brand het vinnig versprei en volgens plaaslike media het die meeste mense gesterf in ’n poging om van die bewegende brandende trein af te spring. ’n Verdere 30 mense is beseer en daar word verwag dat die dodetal verder sal styg.
Volgens Sheikh Rashid Ahmed het twee stofies waarop gekook is ontplof. Die warm olie waarmee hulle gekook het, het verder brandstof aan die vuur verleen. Volgens hom is dit ’n algemene probleem dat passasiers gasstofies aan boord van treine neem om daarop kos te maak.
Die meeste passasiers aan boord van die trein was kongresgangers wat op pad was na ’n Muslim konferensie. Die trajek is een van die oudste en populêrste trajekte in die land en die trein vertrek daagliks op die rit wat meer as 25 uur vat om te voltooi.
Pakistan het ’n geskiedenis van treinongelukke met veelvuldige sterftes. Een van die redes vir die hoë sterftesyfers is dat die trein met meer passasiers gepak word as waarvoor daar voorsiening gemaak word.