RiVo Dramastudente maak naam by Op Die Plankefees

Tydens die onlangse Op Die Planke Monoloogfees wat op 19 Oktober by Hoërskool Jeugland in Kempton Park aangebeid is, het die 19 RiVo Dramastudente van Rita Volschenk van die KunsteGrot op Thabazimbi hul stempel duidelik afgedruk.

Die kompetisie is op Nasionale vlak aangebied en leerlinge van oor die hele land kon hiervoor inskryf.

Niemand sal weer twee keer na die plattelandse dramastudente kyk sonder om te besef dat op die platteland word drama met groot gees aangepak om die talente van die voornemende dramastudente ten volle te ontwikkel nie.

Dat die kinders hulle merk gemaak het tydens die fees is sonder twyfel.

Tydens die kompetisie het al die deelnemers sertifikate ontvang terwyl die eerste en tweede plekke ook met ’n medalje bekroon is.

Die kompetisie was straf maar die RiVo Dramastudente van Thabazimbi het hulle glad nie laat intimideer nie en het as sterre van die verhoog afgestap.

Rivo Dramastudente het gesorg vir ses Eersteplekke, agt Tweedeplekke, twee Derdeplekke, twee Vierdeplekke en een Sesdeplek.

Eersteplekke het gegaan aan Lize Venter (Gr 5), Duan van der Nest (Gr 3), Liselotte Smit (Gr 9), Nicolet Trichardt (Gr 6), William Niemand – Engels (Gr 11) en Kieran Soares (Gr 7).

Op Die Plankefees is ’n nasionale kompetisie wat voorsiening daarvoor maak dat leerlinge van alle ouderdomme in Afrikaans en Engels hulle passie kan uitleef en hul talente verder ontwikkel.

Op Die Plankefees is nou in sy tweede jaar en is die breinkind van Armand Britz om ’n platform te skep waardeur jong dramastudente hulself kan voorberei vir die kunste.

Die Monoloogfees vorm maar een van die aspekte van die kompetisie wat onder andere ook bestaan uit ’n Toneel Fees, Monoloog Skryffees en ’n Teks Skryffees.

Verder beoog die organiseerders om volgende jaar, in 2020, ook die Revue en Kunsuitstalling-fees bekend te stel waardeur elke kultuurleerling die geleentheid gebied sal word om hulle talente op streek, provinsiaal en moontlik nasionale vlak uit te uitleef.

Op Thabazimbi het keuring tydens die RiVo Monoloogfees plaaslik in die KunsteGrot geskied waartydens al die deelnemers op laerskool-sowel as hoërskoolvlak keuring hiervoor ontvang het.