Health

Hittegolf ook op pad na Limpopo

Suid-Afrikaners wat reeds gedwing word om met beurtkrag saam te lewe moet hulself ook nou teen ’n verwagte hittegolf oor gedeeltes van die land staal.

Volgens die Weerdiens ervaar die Noord-Kaap reeds skroeiende hitte terwyl Limpopo en die Noord Westelike provinsie glad nie uitgesonder word nie.

In Gauteng word verwag dat temperature Vrydag sal begin styg tot ’n maksimum van 37 grade Celsius op Saterdag. Daar word verwag dat dit ’n verdere las op die kragnetwerk, wat reeds onder groot druk verkeer, sal plaas.

Verder word verwag dat die hoë temperature vir die res van volgende week sal duur, alhoewel Gauteng vanaf Dinsdag effens koeler weer kan verwag.

Die sentrale gedeeltes van die land wag steeds op die eerste lentereën. Die donderstorms wat voorspel is, het slegs ligte reën vir ’n paar minute teweeggebring.

Daar is egter ’n 30% moontlikheid vir ligte donderstorms vanaf Vrydag oor Gauteng.

Die warm weer wat Europa die afgelope paar maande geteister het, beweeg nou oor na Groenland waar verwag word dat ’n groot invloed kan hê op die wêreld se tweede grootste yslaag.

Hierdie warm weer wat vanaf Noord-Afrika opstyg het verskeie maksimum temperature in Europa tot gevolg gehad en is nou na Groenland op pad waar oppervlak-ys die afgelope paar weke al hoe meer begin smelt het.