Editorial

Trollip: DA kan die ligte laat bly brand

Die DA se Athol Trollip het op Thabazimbi gesê dat die party onafhanklike kragvoorsieners sal verwelkom as een manier om Suid-Afrika se ligte te laat bly brand.

Die DA se Provinsiale leier en Premiers-kandidaat, Jacques Smalle, vergesel van die DA Federale Voorsitter, Athol Trollip, het sedert Woensdag 17 April besoek by Thabazimbi afgelê en van die geleentheid gebruik gemaak om ondersteuners op ’n informele vlak toe te spreek.

Tans is hulle betrokke by stemwerwing regoor die hele land om te verseker dat die ANC nie in hulle verdere doel slaag om die ekonomie te knak nie.

Indien die ANC meer as 55% van die stemme verwerf gaan die plattelandse ekonomie faal en dan is dit die einde van enige ekonomiese oorlewing. Dit is juis hier waar die DA reeds vroegtydig beplan om die Suid-Afrikaanse ekonomie te red deur te verhoed dat die ANC daarin slaag om meer as ’n 50% meerderheid tydens die verkiesing verkry.

’n Beroep is ook op kiesers gedoen om nie hierdie poging te kelder deur hulle stemme aan die minderheidspartye toe te sê nie en eerder saam te staan om te verhoed dat die ANC en minderheidspartye nie genoeg verteenwoordiging verkry om die grondwet te verander nie.

Athol Trollip, ’n ywerige gholfspeler, het tydens hierdie eerste besoek van hom aan Thabazimbi sommer van die geleentheid gebruik gemaak om aan ’n vinnige Sundowner putjiespel by die gholfbaan deel te neem.

Daarna het hulle lede van die sake, landbou en ander vertakkings van die gemeenskap tydens ’n informele skemerkelk kuier toegespreek.

Die geselligheid is deur die DA-raadslede van die Thabazimbi Munisipaliteit aangebied en die saal was volgepak met DA ondersteuners wat meer wou weet in hierdie aanloop tot Meimaand se algemene verkiesing.

In sy bekendstelling het Jacques Smalle verwys na die destydse burgemeester van Kaapstad, Helene Zille, wat gesê het dat die wêreld totaal uit voeling is met wat die DA besig is om in Suid-Afrika te vermag.

Uit die staanspoor het die Wes-Kaap omgegee vir sy mense deur werkskepping met 70% te verhoog.

Die regering en sy ondersteuners leef steeds onder die wanindruk dat die regering die werkskepper is, terwyl die regering se funksie slegs is om ’n gunstige omgewing vir werkskepping te bewerkstellig en nie om werkgeleenthede te skep nie.

Hy het gesê dat die DA beheerde koalisie van die Thabazimbi Munisipale raad ’n voorbeeld is van wat gedoen kan word.

Op die foto is van links: Raadslid Thane Hearne (DA – Thabazimbi Munisipaliteit), Risham Maharaj (DA Lid van die Provinsiale Wetgewer en politieke hoof van die kiesafdeling waaronder Thabazimbi sorteer), Athol Trollip (DA Federale Voorsitter), Jacques Smalle (DA se Provinsiale leier en Premiers-kandidaat), Raadslid Piet Strydom (Hoofsweep van die Thabazimbi Munisipaliteite) en dr Bertie Joubert (Speaker van die Thabazimbi Munisipaliteit).

Toe hulle beheer oorgeneem het, het die ANC daarvoor gesorg dat daar nie eens ’n stoel was om op te sit nie en moes hulle rekenaars leen om die munisipaliteit se sake weer te orden.

Net so het Athol Trollip as burgemeester van die Madiba munisipaliteit wat Mosselbaai insluit, saam mer die DA ingeklim en dit die vinnigste groeiende stad gemaak. Dit, nieteenstaande die wegblystem wat gepoog het om die saak te pootjie.

Soos dinge begin verkeer loop het Trollip steeds leiding geneem en terug gelei na die regte pad.

Smalle het daarop gewys dat daar steeds genoeg positiewe mense is om die land te lei.

Hy het genoem dat elke party oor ’n sterk fondasie moet beskik om alles bymekaar te hou. In die DA alliansie, het hy gesê is hierdie fondament Athol Trollip.

Trollip het daarna daarop gewys dat jy as kieser dalk nie in politiek geïnteresseerd is nie, maar dat die politiek baie in jou as kieser geïnteresseerd is.

Kiesers moet nie verskoning vra as hulle die hulp van die politici inroep nie, hulle is daar tot diens van die kieser.

Hy het daarop gewys dat Suid-Afrikaners negatiwiteit te maklik aanvaar. Ons is bekend daarvoor dat ons van enige negatiewe situasie ’n grap kan maak – kyk maar net oor al die grappe wat oor Eskom se onvermoë gemaak word. Gebruik ook hierdie vermoë om met jou stem ’n positiewe houding te skep.

Ouers offer baie op om te sorg dat hulle kinders versorg en deur die skool en universiteite gesit word, net om te besef dat die kinders werkloos daarna is.

Met 10 miljoen werklose mense in die land sien die DA steeds kans daarvoor om die situasie om te swaai en die regte klimaat vir werkgeleenthede te skep.

Staatskaping het by kaderontplooiing deur die ANC begin en op hierdie manier is die staat leeggesteel.

Al hierdie persone in uitvoerende posisies wat hierby betrokke was, is deur Cyril Ramaphosa persoonlike gekeur. As gevolg hiervan is die groeikoers heelwat laer as wat hy voorspel het.

So het Ramaphosa aan die wêreld verkondig dat die Reserwebank nooit genasionaliseer sal word nie, maar twee weke daarna, met sy eerste verkiesingsmanifes, verklaar hy dat die nasionalisering van die Reserwebank hoog op die agenda van die ANC is.

Trollip het daarop gewys dat drie persone naamlik Rob Davies, Ebrahim Patel en Pravin Gordhan, deur Ramaphosa aangewys is om die ekonomie aan die gang te kry. Al drie hierdie persone is geswore kommuniste wat ingestel is op die verryking van die heersers deur sosialisme en kommunisme. Steeds het hulle nog nie die boodskap gekry dat nie een van hierdie stelsels werk nie.

Trollip, self ’n boer, het genoem dat onteiening van eiendom sonder vergoeding nie die groot probleem vir buitelandse beleggers is nie, daar is groter bekommernisse en onteiening is maar vyfde op hulle lys om nie in Suid-Afrika te belê nie.

Vir buitelandse beleggers is die groot “Suid-Afrikaanse Brexitt” die hoë misdaadsyfer. Die polisie het beheer oor misdaad verloor en slegs die DA beskik oor die vermoë om een Suid-Afrika vir almal te skep waar inwoners wedersydse respek teenoor mekaar kan toon.

“Die komende verkiesing word goed dopgehou want net soos die meerderheid Suid-Afrikaners, wag die buiteland ook op die verandering. Met die ANC aan bewind sal die Zuma era maar net so oorgedra word na die Ramaphosa era.”

Die DA het Woensdagoggend juis in Gauteng by Luthuli-huis tydens ’n protes optrede ’n protesbrief oorhandig met meer as 500 000 handtekeninge asook verskeie oranje tronkoorpakke en boeie vir die mense op die ANC se verkiesing-rol wat eintlik weens hul kriminele dade in die tronk hoort.

“Suid-Afrika het verandering nodig om verandering teweeg te bring”, het Trollip beklemtoon.

Onder die ANC bewind het plaaslike regering disfunksioneel geraak en met al die opleidingskolleges wat gesluit is, het die ANC reeds bewys dat hy glad nie die belange van die land se jeug op die hart dra nie deur nie te sorg dat hulle doelgerigte vakonderrig ontvang nie.

As die plattelandse ekonomie faal is dit die einde van enige ekonomiese oorlewing en dit is juis hier waar die DA reeds vroegtydig beplan om die Suid-Afrikaanse ekonomie te red indien die ANC daarin sou slaag om meer as ’n 50% meerderheid tydens die verkiesing te verkry.

Met die EFF en ander minderheidspartye se stem bygereken kan hulle wel ’n twee-derde meerderheid verkry om die grondwet te verander om by hulle beleid aan te pas.

Die grootste doel is tans om te verseker dat die ANC nie meer as ’n 50% meerderheid in die verkiesing yr behaal nie. Daarom kan die land dit nie bekostig om stemme aan minderheidspartye wat dieselfde doel vir oorlewing van Suid-Afrika het, af te staan nie.

Op hierdie manier kan die invloed van die EFF redelik bekamp word veral in hulle strewe om alles wat hulle lot kan verbeter, af te brand.

Met die plaaslike ekonomie wat ’n blaaskans kry en die afskaffing van die stremmende arbeidswetgewing en belaglike belastings wat die klein tot medium sakesektor aan bande lê, kan die ligte wel aan die brand gehou word.

Met minder inmenging vanaf die ANC in plaaslike bestuursaangeleenthede kan die vyandige houding van die ANC teenoor die besighede en die invloed van vakbonde op die plaaslike ekonomie ook beperk word.

Strenger grensbeheer is absoluut noodsaaklik aangesien die huidige bek-en –klouseer uitbraak wat Suid-Afrika se produkte van die wêreldmark weerhou, die ekonomie op die platteland erg benadeel.

Die DA staan vir een Suid-Afrika vir almal waar almal mekaar respekteer – iets wat nie haalbaar is onder ANC-beleid nie.