Maak gereed vir duisternis met Fase 4 beurtkrag

Slegs sowat drie ure nadat Eskom aangekondig het dat Fase 3 beurtkrag vir die res van die naweek tot Maandagoggend sou geld, het die kragvoorsiening aangekondig dat die status vanaf Saterdagmiddag verhoog word na Fase 4.

Die rede hiervoor is dat buiten die verlies van ses opwekkers se vermoë weens onderhoud en die onbetroubaarheid van kraglewering deur Medupi en Kusile kragsentrales, het Eskom die 900MW wat vanaf Mosambiek verkry word verloor.

Geen rede is vir laasgenoemde gegee nie, maar dit kan sekerlik toegeskryf word aan die invloed van die tropiese sikloon, Idai, wat tans die land teister.

Alles dra daartoe by dat Eskom sowat 4 000 MW moet spaar om te verseker dat die netwerk nie ineenstort nie.

Ongeskeduleerde beurtkrag is dus van toepassing wat beteken dat verbruikers blootgestel gaan word aan twaalf 2-uur periode oor ’n tydperk van vier dae of 12 4-uur periodes oor ’n tydperk van agt dae.

Fase 4 beurtkrag was laas gedurende 2008 van toepassing en is die finale opsie vir Eskom om ’n nasionale ineenstorting van die netwerk te voorkom.