Venezuela opposisie beloof om hulp van buite in te bring
Die leier van die opposisie in Venezuela, Juan Guaido, het duisende van sy ondersteuners beloof dat humanitêre hulp die land ingebring sal word nieteenstaande die opposisie wat hy van die president Nicola Maduro verduur.
Guaido, die leier van die opposisie, het homself op 23 Januarie, as president verklaar nadat sy party beheer oor die land se volksraad oorgeneem het, waardeur Maduro onwettig as president aan bewind was.
Maduro het aan die BBC gesê dat hy nie sal toelaat dat enige hulp die land binnekom nie aangesien dit onnodig is. Dit nieteenstaande die feit dat die Verenigde State sowel as die meeste Westerse lande Guaido as die interim president erken. (Sien Kommentaar: Kan Suid-Afrika dalk iets hieruit leer – Kwêvoël).
Maduro wat deur Rusland en China ondersteun word, is onder toenemende druk om ’n vroeë presidentsverkiesing uit te roep te midde van die verslegtende ekonomies krisis en beskuldigings van wydverspreide korrupsie nè menseregte skendings.
Volgens Guaido sla die humanitêre hulp die land op 23 Februarie bereik.
“Ons het bykans 300 000 Venezuela’s wat sal sterf indien die hulp nie toegelaat word om die land binne te kom nie. Daar is ook bykans twee miljoen wie se gesondheid erg bedreig word”, het hy gesê.
Die eerste vragmotors met humanitêre hulp vir Venezuela vanaf die Verenigde State het reeds verlede week in die Colombiaanse grensstad, Cucuta, aangekom.
Die vragmotors is naby die Tienditas brug geparkeer aangesien die brug steeds deur Venezuela troepe geblokkeer word.
In ’n gesprek met die BBC het Maduro die president van die Verenigde State, Donald Trump, sê regering as ‘’n bende ekstremiste uitgekryt terwyl hy die Verenigde state vir die krisis waarin die land verkeer blameer.
Hy het ook gesê dat hy nie humanitêre hulp van die VSA sal toelaat nie aangesien hulle die land wil binnestroom en beheer oorneem.
Nieteenstaande die feit dat die vorige verkiesingsuitslag waardeur Maduro vir nog ’n ses-jaar termyn as president aangewys is, nie deur die VSA en meeste Westerse lande erken word nie weens erge onreëlmatighede, weier Maduro om weer ’n verkiesing uit te skryf.
Tydens die verkiesing is baie opposisie kandidate verbied om aan die verkiesing deel te neem, in die tronk gestop en het bewerings van stemvasstelling die rondte gedoen.
Vir jare ervaar Venezuela se burgers erge tekorte aan basiese items soos medisyne en voedsel en met die stygende inflasie verdubbel pryse bykans elke negentiende dag.
Volgens die Verenigde Nasies het sowat drie miljoen mense, bykans 10 persent van die bevolking, die land verlaat sedert die ekonomie gedurende 2014 in duie begin stort het.