Business

Buite Advertensieborde: Noodsaaklikheid om insette nou te lewer

Wat deur sakemanne gesien word as ’n onnodige bemoeiing deur die plaaslike owerheid, is in werklikheid iets waaraan daadwerklik aandag aangegee moet word.

Dit is naamlik die munisipale ordonansie of by-wet wat die plasing van buite advertensieborde reguleer.
Hierby is nie net ingesluit gewone besigheidsborde nie, maar ook waentjie-borde, verligte- en LED vertoonborde.

Om kleinsakepersone meer hieromtrent in te lig was dan ook die hoofdoel van die Thabazimbi Sakekamer se Koffie-uur en Netwerksessie wat Woensdag 12 September by Komma Nader Koffiekroeg in Heuwelkruin Thabazimbi aangebied is.

In Thabazimbi is daar tans geen wetgewing wat al die toepassings van die wetlike aspekte reguleer nie, behalwe dat toestemming van die munisipaliteit verkry moet word in die vorm van ’n plakker wat as bewys van betaling wat op die advertensiebord geplak moet word.

Alhoewel die Thabazimbi Munisipaliteit reeds by vorige geleenthede konsep-wetgewing voorgelê het, het dit tekort geskied in baie opsigte, sodanig dat indien dit goedgekeur sou word dit glad nie in die behoefte van die besighede sou voorsien het nie en eintlik diskriminerend teenoor die sakesektor gestaan het.

Sodra die konsep wetgewing goedgekeur is, sal die regulering hiervan vir tenders oopgestel word.
Hieruit kan gesien word hoe gevaarlik dit is indien wetgewing soos vervat in die verordening, nie die steun van die besigheidsektor sou geniet nie. Dit kan ook daartoe lei dat onbevoegde kontrakteurs aangestel word om geld te maak uit ’n sisteem waar boetes maklik op sakeonderneming gelaai kan word, slegs omdat die bepalings van die wet nie haalbaar is ten opsigte van die vereistes waaraan advertensieborde moet voldoen nie.

Hierdie by-wet is sedert 2012 reeds in omloop en is telkens deur die Sakekamer gestop weens erge leemtes wat dit oopgelaat het vir korrupsie en wan interpretasie. Sakekamer het die vermoë om te verseker dat hierdie wet reg en regverdig teenoor die sakegemeenskap toegepas sal word.

Die voorstel wat tydens die bespreking gemaak is, is dat Thabazimbi Sakekamer dit op hom neem om die formulering van die verordening te behartig vir voorlegging aan die dorpsbeplanner.
Dit kan lei tot verdere werkskepping asook ’n addisionele inkomste vir die Sakekamer.

Tans is daar geen standaard nie en daar is ook nie noodwendig enige eenvormigheid betrokke by buite-advertensieborde nie.
Vereistes wat hierby ingesluit moet word, is dat dit voorsiening vir alle tipe van advertensieborde moet dek. Daar moet ook genoeg tyd verleen word aan adverteerders om hulle advertensieborde volgens die neergelegde spesifikasies te herregistreer nadat die vereiste veranderings aangebring is.

Thabazimbi Sakekamer het ’n konsepvoorstel, wat gebaseer is op riglyne wat neergelê is vir buite-advertensieborde soos op die webwerf vir advertensieborde wat op Suid-Afrika van toepassing is, aangepas om vir plaaslike wetgewing voorsiening te maak.

Tans word hierdie bepaling glad nie in enige voorlegging wat voorheen deur die munisipaliteit gedoen is toegepas nie.
Die dorpsbeplanner se uiteindelike toestemming en uitspraak hieroor neem verskeie ander departement se insette in ag in die goedkeuring van hierdie by-wet.

Eerstens is daar die verkeersafdeling wat moet bepaal of die advertensiebord of plakkate wat opgerig of vertoon word, dalk die uitsig beperk of belemmer van verkeer op die pad of by aansluitings.

12 Sept Koffie-uur
Die Thabazimbi Sakekamer het hulle Koffie-uur Woensdagoggend by Komma Nader Koffiekroeg aangebied. Op die foto is van links: JC Havenga van Coastal Hire, Jacques Blaauw, ondervoorsitter van Thabazimbi Sakekamer wat die voorlegging gedoen het en Riana van Elbro Makelaars.

Tweedens moet die tegniese departement ingeroep word om te bepaal of daar nie enige water- of riool pype, of elektriese kabels is wat beskadig kan word tydens die oprigting van advertensieborde nie en laastens is daar die erkenning van betaling deur die munisipaliteit.

Die by-wet is ’n redelike dik dokument om deur te gaan. Die versoek van Sakekamer is dat elke sakeman die dokument sal bestudeer en enige kommentaar daarop voor Vrydag 14 September na hulle sal deurgee.

Die betrokke konsep by-wet is beskikbaar onder aan hierdie redaksioneel, op die Sakekamer se tuisblad asook by die amptelike tuisblad van Thabazimbi Munisipalteit.

Die basis-dokument kan alleen van waarde wees indien dit sterk genoeg is om steeds prakties en uitvoerbaar te wees indien dit dalk in verkeerde hande sou beland vir die uitvoering daarvan.

Met Sakekamer in beheer is daar kontrole en kan dit ook lei tot pro-aktiewe werkskepping. Om hierdie rede is vinnige terugvoering van die uiterste belang.

Vir die interim periode moet besighede wat ’n behoefte aan buite-advertensieborde het, die toestemmings-plakker by die munisipaliteit bekom. Sorg intussen dat jou borde volgend die neergelegde spesifikasies van die voorlopige by-wet, soos deur die Sakekamer behartig, is tot tyd en wyl al die verordenings in plek is en bespaar jouself addisionele uitgawes.

Aangesien die munisipaliteit se finansiële jaar vanaf einde Junie tot begin Julie strek is daar nie veel kans dat die by-wet voor 1 Julie 2019 in werking sal tree nie.

12 Sept Koffie-uur dames
So ’n vinnige Netwerksessie onder lede. Van links: Colene van Studio Etnisch Grapic Design, Mari van Mari Engelbrecht Photography, Anelie van Tonder van AvT Eiendomme en Nicolette Coetzee van Pondok.

Daar is ook ’n beroep op kleinsakebesighede gedoen om gemeenskaps-aksies soos die belastingbetalersvereniging asook die toerismevereniging te ondersteun waardeur hierdie verenigings se stem ook duideliker hoorbaar is in besluite wat almal in die gemeenskap raak.

Sakekamer het ook ’n beroep gedoen op besighede om by die CSD (Central Supplier Database Application) en LIBRA (Limpopo Business Registration Act) te registreer wat sake baie vir besighede vergemaklik indien die munisipaliteit, of enige ander staats-georiënteerde besigheid soos SANParke plaaslik diensverskaffers benodig.

Hulle is volgens wet verplig om sekere van hulle aankope plaaslik te doen om die plaaslike ekonomie te stimuleer. Dit kan alleen geskied indien jou besigheid as diensverskaffer by hierdie instansies geregistreer is.

Gaan Google gerus hierdie departemente en laai die aansoekvorms by hulle af.

Sodra jy jou besigheid geregistreer het, kontak Thabazimbi Sakekamer wat die nodige hulp sal verleen dat die munisipaliteit hiervan kennis neem.

Sover dit BEE registrasie aan betref is die voorlegging van die aansoekvorm aan die owerheid genoeg indien jou besigheid vir vrystelling hiervan kwalifiseer. Google dit gerus en sien dat BEE nie noodwendig ’n beslommernis is nie.

Indien jy as kleinsakeman nie daar geregistreer is nie, kan dit gebeur dat besigheid wat outomaties na jou toe sou kom, dalk na ’n besigheid in ’n naburige dorp gekanaliseer word.

Klik op die skakel hieronder om die konsep by-wet te besigtig

Advertising – Outdoor – Thabazimbi Local Municipality Draft _ads bylaws (1)