Community

Aangename atmosfeer op Gholfbaan tydens HFM Gholfdag

‘n Aangename atmosfeer is verseker met twee “nat gate”, beman deur HFM personeel en ‘n Wimpy halfweghuis, toe 18 spanne Saterdag 8 September op die Thabazimbi gholfbaan af geslaan het in die gholfdag wat deur Hoërskool Frikkie Meyer aangebied is.

10 Sept HFM Gholf foto 4
Reëlingskomitee van links: Erich van Rooyen, Ninette de Aguiar, Chrisna Els, Scott Denton en hulp, Rita Brits.

In die kompetisie om naaste aan die pen te eindig, is Louwtjie de Beer (gate 7 en 16) en Alwyn Burger junior (gate 3 en 12) die wenners.

Net om te bewys dat vrouens ook goeie gholf kan speel, palm Louise van Graan die prys in met die akkuraatste dryf vanaf die bowwe by 1 en 10.

‘n Heerlike rondte gholf word afgesluit met ‘n veiling in die klubhuis, aangevoor deur afslaer Sieg Smith, waar spelers van ‘n rooibok tot ‘n 10 jaar KWV kon aanskaf. Uiteraard was die dag ook ‘n kompetisie en moes daar wenners wees.

Die wenspan vanjaar was die vierbal van Herman en Matthew van Tonder, Sieg Smith en Michael Moagi met ‘n totaal van 59 punte.

Vir die tweede plek moes uitgetel word en die tweede plek wenners met 58 punte was Johan Smith, Mike en Joey Nortjé en Bevin van de Groenekan. (foto hieronder)

10 Sept HFM Gholf foto 2

Derde was Nico Steenkamp, Thinus Fourie, Ernest Schoeman en Tom Louw.

Peet de Beer was vir die dag die oudste manlike speler wat met sy gesonde 69 jare die rondtes voltooi het.

Dit was voorwaar vir HFM ‘n voorreg om hierdie dag in samewerking met die Thabazimbi Gholfklub aan te bied.

Die ondersteuning van individue en maatskappye vanuit die gemeenskap het hierdie dag ook moontlik gemaak en HFM staan dankbaar voor elke donateur en rolspeler, maar veral ook groot dank aan elk van die 72 spelers wat hul weg oopgesien het om hierdie dag te ondersteun.

Dit bly steeds Hoërskool Frikkie Meyer se strewe om as gemeenskapskool in diens van die gemeenskap te staan