Thabazimbi Skou – 64ste Jaar – Steeds met beeste
Te midde van ernstige politieke verwikkelinge vier die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidsgemeenskap, wat die Thabazimbi Skou aanbied, hul 64ste bestaansjaar.
Die eerste skou is nege jaar na die Tweede Wêreldoorlog aangebied en deur droogtes, rampe en oorstromings heen het die Landbou saam met die Mynbou op Thabazimbi die ruggraat van die gemeenskap gebly.
Die beesbedryf waarvoor die Thabazimbi Bosveld tot in die laat 80-er jare bekend was, het na 2000 agteruitgegaan en het die wildbedryf hul plek op die meeste plase oorgeneem.Ondank dit het Thabazimbi Skou as ’n groot Beesskou bly voortbestaan.
Teen 2016 het die wiel begin draai en het beesboerdery sodanig herstel dat Thabazimbi Skou nou een van die grootste, indien nie die grootste nie, beesskou in die land is.
Tydens hierdie skou vind die Limpopo Brahman Kampioenskappe, met meer as 250 beeste wat deur lede ingeskryf is, op Thabazimbi plaas.
Dis nie al nie. Die Nasionale Kampioenskappe van die Pinzgauer beesras met 150 beeste wat ingeskryf is, vind ook tydens die Thabazimbi Skou plaas.
Daar word verwag dat tenminste tien beesrasse tydens die skou uitgestal gaan word.
Boonop vind ’n reuse veiling van Boerbok Kalahari Red en Meatmaster kleinvee op Saterdag 28 Julie plaas.
Die mallemeule is ’n groot trekpleister om die kinders en almal wat nog die gees daarvoor het, te vermaak. Daar word groot klem gelê op veiligheid vir diegene wat dit gebruik en besoekers kan verseker wees dat dit wel die geval is.
Netso is uitstallers gekeur en slegs die met goeie produkte word toegelaat.
Die Skoukomitee nooi dus alle inwoners van Thabazimbi en omstreke uit om die skou te kom geniet en te sien wat daar alles beskikbaar is – alles op een terrein.