Dienste-betogings bereik hoogtepunt

Die aantal protesaksies teen swak dienslewering het ’n hoogtepunt bereik en daarmee saam die aantal gewelddadige betogings waarmee dit gepaard gaan.

Hierdie is die bevinding van ’n verslag wat die afgelope week deur Municipal IQ, ’n organisasie wat plaaslike regering monitor, bekend gemaak is.

Dit is kommerwekkend, maar die realiteit hiervan om net die aantal optredes te tel is dit, volgens Daily Maverick, nie so eenvoudig om die gewelddadige aksies wat hiermee gepaard gaan te definieer nie.

Die verslag meld dat daar gedurende die tweede kwartaal van 2018 tussen April en Junie, 101 protesaksies was teenoor die 73 gedurende die ooreenstemmend tydperk gedurende 2017.

Boonop was 94% van hierdie aksies gewelddadig wat ’n skerp styging toon teenoor die vorige jare.

Hulle inligting is gebaseer op mediaverslae asook polisie mediavrystelling en slegs aksies wat sake aanspreek oor die verantwoordelikheid en die verwagte dienslewering van die plaaslike regerings. Dit sluit in die aanspreeklikheid van munisipale amptenary, die kwaliteit en tempo van dienslewering en behuising.

Die sluit nie kwessies in wat buite die aanspreklikheid van plaaslike regerings lê nie, soos die vasstelling van munisipale grense, industriële aksies en aksies wat duidelik teen die regering gemik is nie.

Volgens ’n woordvoerder van Municipal IQ, Karen Heese, is die mees algemene klagtes oor behuising en elektrisiteit, alhoewel dit van provinsie tot provinsie verskil.

Tog moet die onderskeid getref word tussen wat van ’n protesoptog ’n gewelddadige protesaksie maak.

Die Universiteit van Johannesburg se Centre for Social Change sê dat IQ se bevindinge misleidend is aangesien dit blyk dat hulle die aantal protesaksies onderskat en die gewelddadige aksies oorskat. Die sentrum het ook in ’n onlangse verslag genoem dat hulle reken dat die media het minder as ’n kwart van die protesaksies vermeld teenoor dit wat die deur die polisie aangemeld is.

Hulle rede hiervoor is dat die kleiner protesaksies nie vermelding in die media kry nie asook nie die waar daar nie ’n element van geweld is nie.

Protesaksies in die stedelike gebiede het voorkeur geniet asook in Gauteng en Wes-Kaap, waar die meeste mediahuise gevestig is.

Die polisie se jaarverslag wat in Augustus 2017 vrygestel is, het ’n totaal van 14 693 insidente aangeteken waarby skares betrokke was. Nie almal was protesaksies nie, maar sluit in alle gevalle waar polisiebeskerming ingeroep word.

Van hierdie aantal aksies was 10978 vreedsaam en slegs 3 715 onrus-verwant soos #FeesMustFall, arbeidsonrus asook ontevredenheid oor munisipale dienslewering, vervoer en onderwys. Hierby is ook aksies soos die versperring van paaie, wat meer ’n ontwrigting van die sosiale orde is as wat dit noodwendig gewelddadig is.

Die Centre for Social Change sê dat hulle die internasionale aanvaarbare definisie van geweld in die konteks van “geordende” en “onbeheersde” protesaksies.

Alhoewel volgens hulle daar ’n opwaartse styging in onbeheersde gemeenskap-protesaksies sedert 2006 is, het die aksies wat uiteindelik gewelddadig geraak het sedert 2010 redelik stabiel gebly.

Aangesien die media hoofsaaklik dekking verleen aan gewelddadige protesaksies is miskien een rede hoekom daar meer sulke protesaksies is.

Dit is ’n feit, ongeag wat die sentrum of enige ander instansie sê dat bring ’n kameralens naby die betogers en skielik is daar ’n oplewing onder hulle. Die media is steeds die beste manier om die betoger se boodskap aan die regering oor te dra al lei dit tot die verlies van persoonlike- en staatseiendom.

Dit is so duidelik dat gewelddadige betoging tans aan die toeneem is, juis net om te verseker dat die media hul boodskap vir hulle gratis verder gaan uitdra.

Juis om hierdie rede was dit deur die loop van jare Kwêvoël se beleid om geen of minimale dekking aan betogings en optogte te gee.

Die vernietigende effek van geboue wat afgebrand word, stukkende ruite en vullis wat rondgestrooi is, het eerder die invloed om die gemeenskap aan die dink te sit as die vrees wat by die gemeenskap ontketen word deur die gewelddadige beelde op TV en die voorblaaie van koerante.

Sodra die media saam begin werk en nie meer prominente nuusdekking hieraan verleen nie sal daar ’n besliste afname in gewelddadige betogings wees.

Die media kan help om mense te waarsku oor waar beplande betogings gaan plaasvind om onskuldige mense uit die gebied te hou.

Deurdat Kwêvoël nou aanlyn is, kan nuus maklik deurgestuur word om die gemeenskap in kennis te stel van protesaksies.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël
Bron: Daily Maverick