Rolspelers se afwesigheid pla by Toerisme Indaba

Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël

Die tweede sessie van die Thabazimbi Toerisme Indaba wat verlede maand in Marakele Nasionale Park aangebied is, het ek baie stimulerend gevind, veral die terugvoering op die SWOT-analise wat deur die plaaslike sakeman en kenner op die gebied, Jacques Blaauw, gelei is.

’n Paar van die vorige rolspelers, in terme van sprekers wat nie direk betrokke was by die organisasie en aanbieding van die eerste Toerisme Indaba nie, maar wat baie welkome insette gelewer het om die deelnemers betrokke te kry by die SWOT-analise na afloop van die Indaba en baie waardevolle insette gelewer het, was wel teenwoordig om hierin te deel.

Wie nie teenwoordig was nie, of in ’n baie mindere mate as met die eerste Indaba, was die fisiese rolspelers soos die lodge/gastehuis-eienaars, jag-uitrusters, wildsplaas-eienaars, eienaars van privaat wild-, roofdier- en roof/aasvoël-reservate in die direkte en omliggende Thabazimbi gebiede. Hierdie rolspelers het groot waarde toegevoeg deur hulle die insette wat gelewer is om die SWOT-analise te kon bemagtig.

Soos in die berig in Kwêvoël oor die tweede Toerisme Indaba, is daar baie potensiële market binne die toerisme-bedryf wat ontgin kan word. Die groot probleem bly egter die tekort aan ontwikkelingskapitaal.

Hier was dit teleurstellend dat daar geen openlike teenwoordigheid van rolspelers in die finansiële sektor was nie. Of dit so bedoel was of nie, glo ek dat hierdie instansies op hoogte van sake moet wees van wat die plaaslike munisipaliteit in samewerking met ander groot rolspelers probeer vermag om toerisme te bevorder, ’n aspek wat reeds lank gelede geïdentifiseer in terme van lewensvatbaarheid en volhoubare groei vir die gemeenskap ingevolge die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) vir die dorp.

Waar was die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika wat destyds baie sterk insette gelewer het tydens die eerste IDP konferensie oor die beskikbaarheid van kapitaal vir ontwikkeling?

Het die banke die gemeenskap so gefaal dat ontwikkelaars besef dat banke nie meer daarop gemik is om plaaslike ontwikkeling te stimuleer nie en hulle besigheid eerder op die salaristrekkers vestig. As Suid-Afrikaanse finansiële instansies nie meer bereid is om in Suid-Afrika se toekoms te investeer nie, bied dit ’n baie swak beeld van ons land se ekonomiese gesondheid.

Dit was ooglopend dat ’n groot aantal afgevaardigdes by die Indaba nie deel van die plaaslike gemeenskap was nie en verkies het om veral die verdere besprekings te ignoreer en het eerder buite op die stoep gekuier en vir die kospotte gewag inplaas daarvan om verder te deel in die Indaba.

Dit was so erg dat die program-leier genoodsaak was om hulle van tyd tot tyd tot orde te roep aangesien niemand binne die konferensiesaal die sprekers kon hoor nie.

Het hulle dalk gekom in die hoop dat die regering miljoene rande gaan weggee en daarmee aan hulle die geleentheid bied om die enigste lewensvatbare projek in ons omgewing te skaak?

Die vraag is net – hoekom was die werklike rolspelers afwesig en is die stoele gevul met mense wat geen belang by die Indaba gehad het nie.

Waar was die rolspelers wat reeds lewensvatbare fasiliteite binne die hele raamwerk van die SWOT-analise ontwikkel en geïdentifiseer het?

Vir almal betrokke by die toekoms en ekonomiese voortbestaan van Thabazimbi deur die bevordering van wat die omgewing kragtens die bevordering van plaaslike toerisme kan bied, is Indaba’s soos hierdie van die uiterste belang.

Om terug te keer na die insette wat tydens die Indaba gelewer is.
Hier het die belangrikheid van die eerste en blywende indrukke van die toeris, wat vir die eerste keer die dorp inry, sterk na vore getree.

Voor die aanvang van die Indaba het ek ’n paar woorde met een van die sprekers van die vorige Indaba gewissel. Die betrokke persoon van SANParke het baie goeie werk gedoen om die gemeenskap van Clarence in die Oos-Vrystaat betrokke te kry by die bemarking van die Golden Gate Nasionale Park, wat toevallig ook deel uitmaak van die Noordelike parke wat Marakele Nasionale Park insluit.

Clarence het intussen ontpop as toerisme bestemming met verskeie restaurante, kunsgalerye en hul eie Boetiek Bierbrouery en gastehuise wat honderde mense oor naweke en vakansies daarheen lok.

Hy het tydens die eerste Indaba ’n opmerking gemaak oor die negatiewe persepsie wat hy gekry het met die sterk rioolreuk wat merkbaar was toe hy Thabazimbi vanaf die weste binnegery het.
Tydens my gesprek met hom voor die Indaba het hy genoem dat Thabazimbi iets omtrent hierdie rioolreuk moet doen voordat hulle die gebied as toerisme bestemming sal kan bemark.

Op my vraag aan hom het hy bevestig dat hy dieselfde toegangspad gebruik het as tydens sy eerste besoek toe hy die dorp binnegekom het. Ek het hom daarop gewys dat Anglo die rioolplaas intussen opgegradeer het en dat daar geen teken meer was van die rioolreuk nie. Sy eerste indruk wat hy destyds gehad het, het hom daarvan weerhou om die afwesigheid van die reuk te bemerk.

Hiermee het ek hom van ’n groot verleentheid gered want toe hy later weer ’n spreekbeurt gehad het, het hy daarop gewys dat toe hy die dorp tydens hierdie geleentheid binne gery het, was daar nie sprake van ’n sterk rioolreuk nie – wys net die krag van eerste indrukke – al lieg jy daaroor as dit nie meer aanwesig is nie!

So ook was daar die kommentaar van ’n verteenwoordiger van die Limpopo Toerismevereniging wat gewys het op die swak hantering van navrae by gastehuise wat klink asof hulle jou ’n guns bewys deur net met jou te praat.

Maak seker dat jou ontvangspersoneel oor die nodige telefoon etiket beskik sodat besoekers nader gelok word eerder as om nooit weer te skakel nie. Die voorbeeld wat jou besigheid stel is die indruk wat besoekers onbewustelik van al die besighede in die dorp opstel en dit dan as sulks uitdra. Die telefoon is die eerste kontak met die kliënt – laat die kliënt welkom en gewaardeer voel deur sy navrae.

Laasgenoemde persoon se ondervinding het ongelukkig verder gestrek met die onwelkome diens by ’n restaurant in die dorp waar hy ontbyt wou nuttig. Nuwe besoekers is maar geneig om eerder die meer bekende franchise restaurante te besoek as hulle ’n dorp binnery – ten minste weet die kliënt wat om te verwag en behoort hierdie restaurante op ’n standaard te wees wat deur die franchise gestel is.

Ongelukkig is daar een standaard waaroor die franchise geen beheer het nie. Dit is naamlik die diens wat jy as kliënt ontvang.

Word die besoeker vriendelik ontvang sonder dat hy homself deur ‘n skare van kelners wat luidkeels by die deur staan en gesels of sommer net na buite staar, moet wurm en vir ’n halfuur of langer moet wag voordat een van die kelners hulle dalk sal verwerdig om ’n bestelling te neem?

Hierdie is eerste indrukke wat uitgedra word – “Vermy eerder die plaaslike restaurante op Thabazimbi – pak maar eerder padkos en ’n fles koffie!” – wil ons nie hê nie.

Sien toe dat jou personeel, veral die in die restaurant en gasvryheid-bedryf behoorlik opgelei is en gaste professioneel en met die nodige aandag bedien.

Net so is daar baie besighede wat hul eie bemarkings video’s vertoon terwyl jy staan en wag om bedien te word.
Binne hierdie bemarkingsraamwerk kan baie gedoen word, sonder noodwendige addisionele uitgawes, om toerisme in die gebied te bevorder. Vertoon video’s oor toerisme aanloklikhede in die omgewing waarvan daar heelwat is soos die aasvoëlrestaurant, die natuurskoon van Marakele en die wildlewe wat daarmee gepaard gaan om net ’n paar te noem.
Ondersteun die mense wat iets probeer en moenie altyd geld daarvoor verwag nie.

Ongelukkig is daar te veel korporatiewe maatskappye in die dorp werksaam wat net geld uit die gemeenskap neem sonder om, buiten salarisse, iets terug te ploeg. Die feit dat hulle werkgeleenthede skep is nie noodwendig genoeg om al die miljoene rande wat hulle uit die gemeenskap onttrek te regverdig nie. Deur hierdie maatskappye se gierigheid het heelwat potensieel lewensvatbare besighede wat bydrae tot die toerismebedryf kon lewer reeds tot niet gegaan. Een hiervan was Dewside Brouery en Restaurant.

Baie dinge is reeds probeer, ondermeer die Wildsfees en die Thabazimbimyn Bergfiets uitdaging wat tydens die Wildsfees aangebied is. Hierdie geleentheid het baie mense van regoor die land getrek – waar anders kon jy met jou bergfiets deur tonnels ry wat jou van die een kant van die berg na die ander kant geneem het?

Wetgewing ten opsigte van mynveiligheid het ’n einde hieraan gebring maar dit is dalk iets wat weer oorweeg kan word op ’n gedeelte van die myngroef waar daar meer beheer oor die veiligheid van deelnemers is.
Myntoerisme was juis een van die komponente van die SWOT-analise wat sterk na vore getree het.

Al wat oorgebly het, is die Marakele Marathon. SANParke, die Thabazimbi Marathonklub, die Ereveldwaters en ander rolspelers kan gelukgewens word met hierdie unieke ervaring wat aan deelnemers gebied word om sekerlik aan een van die uniekste marathons deel te neem.

So was daar die Bergboegoeklub, ‘n plaaslike sosiale natuurliefhebbersklub wat gereelde uitstappies in die natuur geneem het en hulle kennis, veral die identifisering van bome uitgebou het. Die maandelikse uitstappies het gepaar gegaan het met ‘n braai waar lede gesellig om die vuur gesit en gekuier het. Tydens so ‘n braai teen die hange van die Kransberg se voetheuwels, het een van die besoekertjies uit Johannesburg wat saam met sy ouers in die Kransberge kom ontspan het, ‘n seun van ongeveer 10 jaar oud, by my gesmeek om agterop my bakkie terug na die lodge te ry. Met veiligheid in ag geneem het ek hom laat belowe dat hy plat agterop die bakkie moet sit wat hy ook gedoen het.

Ek het niks daarvan gedink nie totdat ek ‘n paar weke daarna weer by die lodge uitgekom het waar ons die uitstappie gehad het. Daar het ‘n briefie vir my gewag wat die kind se ma vir my gelos het om my te bedank vir die onvergeetlike rit wat haar kind agterop my bakkie gehad het. Vir hom was dit die grootste ondervinding van die hele naweek in die Kransberge en kon hy nie uitgepraat daaroor raak nie. Om agter op ‘n voertuig te ry terwyl jy kyk na die sterre wat bo jou skyn is iets wat hy vir altyd sal onthou.

So het ek ook die ondervinding gehad toe ek en vriende, na ‘n wildrit op ‘n vriend se wildsplaas, teen skemer by een van die poele langs die rivier gestop het vir ‘n skemerkelkie.

Stoele is uitgesit wat oor die waterpoel kon uitkyk terwyl sjampanje geskink en ligte verversings bedien is. Skielik het dit stil geraak met ‘n visarend wat gesteurd vir sy maat fluit en was daar stemme wat in harmonie sing wat vanaf die oorkantse oewer hoorbaar raak.

Soos die stemme harder geword het, het fakkels in die poel begin weerkaats en die jong sangers, almal leerlinge van die plaasskooltjie en kinders van die plaasarbeiders, het uit die bos gestap kom. Op die ou einde was dit ‘n skouspel van sangers en dansers wat ons vir ‘n halfuur lank op die natuur se eie verhoog met sang en tradisionele danse, met tromme as enigste begeleiding, vermaak het met die groot vure en fakkels se weerkaats as beligting. Onvergeetlik!
‘n Groter verhoog kan jy nie by Monte Casino of enige ander teater kry nie.

Wat ons as inwoners van die bosveld as allerdaags beskou kan vir ‘n stadbewoner ‘n besondere ervaring wees. Hou dit in gedagte met jou bemarking en dit wat jy aan die toeris kan bied – maak seker dat hy volgende keer nog mense saambring om dit te ook te ervaar.

Nie een van die sprekers het melding gemaak van koste verbonde aan die daarstelling van fasiliteite of fondse vir die finansiering van projekte nie.

Nie eens die Waterberg Munisipaliteit se verteenwoordiger het gepoog om ’n belofte te maak van moontlike finansiering vanaf die provinsie of die staat nie. Iets waarvoor daar in die begroting voorsiening behoort te wees.

Al die moontlikhede wat tydens die laasgenoemde voorlegging genoem is, is reeds ’n paar honderd keer oorweeg maar sonder beleggers kan niks gedoen word nie.

Een ding wat seker is, anders as wat in ander publikasies uitgemaak word, is die feit dat die munisipaliteit slegs ’n ondersteunende rol kan vervul kragtens skepping van infrastruktuur en die voorsiening van wetgewing ter bevordering van toerisme. Die munisipaliteit kan nie ’n mededingende rolspeler in die bedryf wees nie, maar kan deur wetgewing ontwikkelaars aanmoedig om hulself as rolspelers in die bedryf op Thabazimbi of in die omgewing te vestig.

Te min word gedoen om weereens ’n fees, soortgelyk aan die Wildsfees, terug te bring na Thabazimbi. Die Wildsfees het bewys dat dit geld na die dorp trek en toerisme bevorder. Ongelukkig was politieke inmenging vanaf die vorige ANC beheerder munisipaliteit een van die oorsake dat die fees nie meer aangebied word nie.

’n Kraft Bierfees is sedertdien tydens twee geleenthede op klein skaal aangebied. Daar is geen rede dat ’n soortgelyke bierfees gekoppel aan die wild/jag-industrie, nie ’n jaarlikse instelling kan word om toerisme te bevorder nie.

Die res is in die hande van die privaat ontwikkelaars. Maak dit net vir hulle die moeite werd en los die knellende wetgewing wat ons kleinsakebedryf versmoor.