Nuwe energiehoop nie meer uit donker steenkoolmyne, maar van die liggewende son

Die VF Plus berig dat die begrotingsposdebat van die Departement van Energie sekere ligpunte inhou deurdat Suid-Afrika feitlik weer geposisioneer is om voordeel te trek uit ‘n ander energiebron, naamlik die baie sonskyn in ons land deur sonpanele en beter storingsmeganismes.
Dan is daar ook ander natuurlike kragbronne soos windkragopwekkers en ander ontwikkelende tegnologieë.

Die vraag is egter of die regering se beleid korrek geposisioneer is om hierdie ekonomiese dividend werklik te benut? Die geskiedenis leer ons dat dit nie heeltemal die geval is nie, veral weens druk van Eskom. Daarom is dit verblydend om te verneem dat werk gemaak word van die nuwe Geïntegreerde Hulpbronplan en dat met rolspelers gekonsulteer sal word rakende die tegniese verslag wat die plan gaan onderlê.

In die dae van energie-onkunde, toe klimaatsverandering beskou is as ‘n prehistoriese gebeurtenis, toe besoedeling van steenkoolkragstasies in onskuld “die reuk van vooruitgang” genoem is en toe waterskaarste iets in die Sahara was, het Suid-Afrika sonder skroom steenkool verbrand om die goedkoopste energie in die wêreld te produseer. Daardie tyd is nou verby.

Die regte beleid sou wees om die elektriese netwerk oop te stel vir enige produsent wat aan veiligheids- en kwaliteitstandaarde voldoen onder die vaandel van ‘n onafhanklike netwerkoperateur.

As die dak van elke fabriek, huis, plaasskuur en winkelsentrum bedek is met sonpanele; as elke plaas ‘n reeks sonpanele soos ʼn kudde skape het, en as dit gedoen word oor die lengte en breedte van die land, sal dit die afhanklikheid van steenkool aansienlik verminder. Vir perspektief: Veertigduisend hektaar sonpanele sal Eskom se totale opwekkingsvermoë dupliseer.

Verbeel jou dat bykans elke nuwe laekostehuis wat gebou word ook sonpanele en bergingsmeganismes insluit wat gekoppel word aan die plaaslike en nasionale kragnetwerk. Minder gegoede huishoudings sal enige oorskot elektrisiteit aan die stadsraad of aan enige streeks- of nasionale verskaffer kan verkoop. Sodoende word ‘n passiewe inkomste gegenereer wat nie net die armes sal help nie, maar die ekonomie in elke dorp en landwyd sal stimuleer.

Die groot struikelblok op hierdie pad word Eskom genoem. Hy het ʼn absolute monopolie wat deur die staat beskerm word met die vryheid om deel te wees van staatskaping deur SEB-kaders die alleenreg op die verskaffing van steenkool te gee teen enorme opgeblase pryse wat die totale ekonomie benadeel.

Die realiteit is dat al hoe meer mense en ondernemings self-help kragopwekkingsvermoëns gaan skep en dat – soos in die geval van die Gautengse E-tolstelsel – hulle net nie ag gaan slaan op lisensiëringsvereistes nie.

Die VF Plus beskou die monopolie wat Eskom op die oomblik het, as ongrondwetlik en onvolhoubaar. Eskom se tariewe maak krag al hoe meer onbekostigbaar.

Die voorgenome geïntegreerde hulpbronplan moet beplan vir die deregulering van die kragbedryf en Eskom moet voorberei word om opgebreek en verkoop te word. In ‘n nuwe kragmark sal mededinging van verskeie kragverskaffers verseker dat elektrisiteit weer goedkoop word en dat individuele huishoudings ‘n inkomste kan skep deur hul oormaat elektrisiteit te verkoop.

Die antwoord lê ook nie in skaliegas of kernkrag nie. Sonkrag sal ʼn blywende oplossing bied en dit moet nou nagejaag word.