EditorialTop Stories

Plasingbereik – Die sleutel tot lesergetalle

Bo: Plasingbereik van links – 20 November 2017 – 22 November 2017 – 24 November 2017

Toe Kwêvoël in 1983 as Thabazimbi en distrik se eerste plaaslike koerant sy bestek gekry het, het min mense in Thabazimbi en omgewing koerante gelees. Dit is nou buiten die Sondagkoerante. Dagkoerante is deur ’n selektiewe groepie mense gelees.
Kwêvoël was iets nuuts.

Mense wou plaaslike nuus lees – dit is mos waaroor ’n koerant gaan – nuus. Maar wie betaal daarvoor. Die koerantman het ’n inkomste nodig. Hoe doen jy dit met ’n koerant wat gratis beskikbaar is?
Eintlik is koerante en ander soortgelyke publikasie aan Thabazimbi se Kwêvoël, die geliefde Huisgenoot, almal maar een en dieselfde.

Alle publikasies werk vir hulle voortbestaan deur advertensies te verkoop, die eintlike inkomste van die publikasie. Alle publikasies is daarop ingestel om die advertensie van die adverteerder, die eintlike kliënt, in jou huis te kry. Daarom werk name van publikasies soos “Huis”genoot, “Rapport” (met verslaggewing van die jongste nuus) en ander soortgelyke name baie goed.

Kielie die Afrikaner se taal-snare en almal doen die rieldans uit vreugde vir die ondersteuning wat hulle taal geniet. Heeltemal tereg ook. Daar is baie meer plaaslike publikasies wat in Afrikaans uitgegee word as enige ander plaaslike taal in Suid-Afrika. Dieselfde geld ook vir Afrikaanse musiek, Die groot rede hiervoor is nie net dat Afrikaans die jongste en modernste taal in die wêreld is nie, maar ook deurdat die taal ’n lewende taal is wat steeds groei en nie soos die ander tale in Suid-Afrika, veral die swart tale, slegs groei deur leenwoorde uit veral Engels, die koloniale taal wat reeds die bokantse kurwe van sy groei bereik het, aan te pas en hul eie te maak.

Digitale Kwêvoël, wat sedert 2002 bestaan, bevat in elk geval soveel oorspronklike skryfwerk in Afrikaans, sodanig dat dit reeds etlike jare gelede deur die ATKV tot Afrikoon verklaar is vir die rol wat dit in die gemeenskap speel ter bevordering van die Afrikaanse taal in die gemeenskap.
Plaaslike publikasies lê klem daarop dat hulle die nuutste, beste en alles wat daarmee gepaard gaan vir in jou in jou huis kan bied al dra dit nie noodwendige enige nuusberigte nie.

Plaaslik word daar selfs daarop geroem dat dit jou telefoonboek gaan vervang. Baie min mense het nog landlyne waar die telefoon op ’n spesifieke plek staan met die telefoongids byderhand.
Vreemd genoeg, maar talle sakemanne en inwoners glo dit, al loop omtrent almal deesdae met hul telefoonboek in hul sakke rond, maar hieraan dink niemand nie.

Kyk maar na die magtige Geelbladsye waar Johannesburg en die Witwatersrand ’n boek so lywig gehad het dat jy ’n trein daarmee kon laat ontspoor. Waar is dit nou? Wanneer het jy laas ’n telefoongids vir Limpopo of van enigeen van die ander provinsies gesien. As jy iets soek wat jy weet net in die groter sentra beskikbaar is, google jy dit. Of jy besoek die webwerf van die firma met al hul kontaknommers.
Dieselfde gaan vir plaaslike besighede. Adverteer en die kliënte sal jou vind. Nog makliker. Adverteer in die digitale media en jy is sommer by die mense se webwerf sonder om eers jou rekenaar nader te trek.

Mense soek steeds nuus want hulle weet dat alle besluite wat deur die Thabazimbi munisipaliteit geneem word en die inwoners van die dorp raak, veral ten opsigte van dienslewering, ’n aanloop het van hoe dit ontwikkel het van redelik, daarna tot swak en dan uiters swak.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die hele ontwikkeling van die situasie tot op die stadium waar Eskom die kragtoevoer na die dorp ernstig ingekort het met dreigemente om dit nog verder in te kort, sodanig dat baie min kleinsakemanne die gevolge van so ’n stap finansieel sou kon oorleef.

Met Kwêvoël en sy 35 jaar in diens van die gemeenskap, sou jy die volle agtergrond van die toeloop van sake met die krag-tabakel gehad het sodra jy die jongste berigte hieroor op die digitale uitgawe lees.
Aan die einde van elke berig kry die leser outomaties ander berigte wat met die jongste berig (related) skakel.

So sou die leser, nadat hy die jongste berig oor die Eskom besluit gelees het, die berig sien wat die redakteur reeds in 2015 geskryf het wat presies vertel hoe die destydse ANC-beheerde munisipaliteit die Eskom skuld eenvoudig laat oploop het en geen betalings-belofte aan Eskom nagekom het nie.

Korrupsie het hoogty gevier, sodanig dat opposisie raadslede kriminele klagtes teen sekere uitvoerende beamptes by die polisie aanhangig gemaak het. Ongelukkig lyk dit asof die polisie nie lus is om hierdie klagte verder te voer nie en is daar tot op die huidige geen terugvoer van hierdie sake nie.

Met hierdie inligting direk beskikbaar sou ontevrede inwoners nie belaglikhede kwyt geraak het met opmerkings soos “. . . ek gaan nie weer vir die DA stem nie, want dit gaan nou erger met ons. Ons het nou meer krag onderbrekings en sukkel met die watertoevoer.”
Is daar enige ander media wat die antwoord so geredelik beskikbaar het oor die aanloop tot sekere situasies wat ons in die dorp moet verduur?

Indien jy die berig op Kwêvoël se digitale koerant gelees het en al die berigte sedert die DA alliansie die Thabazimbi Munisipale Raad oorgeneem het, sou jy besef dat die ANC die Thabazimbi Plaaslike Regering in bankrotskap ingedryf het. Dat al die voertuie, kantoormeubels en –toerusting, reeds deur die balju verwyder is en dat al die skuld wat die ANC gelos het, steeds daar is – dit is al wat nie verdwyn het nie. Al het jy dit destyds geweet, dit is goed om daaraan herinner te word, nes die vleispotte van Egipte.

Die R25 miljoen wat deur die Limpopo Regering aanvanklik as reddingsboei na die TPM gegooi is, is net so vinnig teruggeruk toe hulle besef dat daar geen vastrapplek meer oor is vir hulle in Thabazimbi nie. Selfs hierdie berig kan jy steeds op Kwêvoël se digitale koerant lees.

Slegs die sosiale media kan op hierdie stadium vir jou daagliks sê wat die plasingbereik van die Facebook-blad en die bereikwydte van enige artikel of besigheids-redaksioneel wat op die Facebook-blad geplaas is. Geen harde-kopie publikasie, of dit gratis uitgedeel of verkoop word, kan dit nadoen nie.

Koerantpapier het baie gebruike, waarvan maar net een is om die leser se leesvermoë te toets, die ander is legio.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël