CommunityEntertainment

Ontbloot met Edrien Erasmus

Na meer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, het Edrien Erasmus genoeg moed bymekaar geskraap om haar eie hart as kunstenaar, vrou, mens, sanger en komediant met gehore te deel.

Edrien het in Thabazimbi groot geword, hier het sy tussen ysterklip en rooigrond vir haarself verhogies en speel-speel teaters gebou. Haar klein tyd drome is aangehits deur twee onderwyseresse van Laerskool Thabazimbi, Marie du Toit en Rita Volschenk, die eienares van “Kunstegrot” op die dorp en passievolle teaterliefhebber.

Van gediggies soos Verdwynskuimroom en Salomo, tot haar eerste rol op die verhoog as die “kat” in Oppad na Bremen, het Rita haar afgerig en help droom! Edrien het hieraan vasgeklou en besef dat jy jou drome moet nastreef, selfs al voel dit soms of dit nie kan werk nie.

Edrien is bekend vir haar rolle in verskeie musiekblyspele, onder andere Droomkind”, “Liefling”, “Ons vir jou” en “Lied van my hart”. Haar Film ervaring sluit in “Vir die Voëls”, “Kampterrein” en vroeër in 2017 het sy die geleentheid gehad om te werk aan die verfilming van “Raaiselkind”.

Sy was ook al te siene in, onder andere 7de Laan, High Rollers, Donkerland, Bloedbroers, Elke skewe pot en Sterlopers.

Sy vertolk ook tans die rol van Bartha van Rooyen in Lefra se verhoog produksie “Fiela se kind”, wat landswyd toer.

“Om ‘n kunstenaar of selfs net kreatiewe mens te wees, dwing jou soms om verskillende karakters in jou hart en kop toe te laat. Die groot uitdaging is, om tussen al die verskillende karakters, emosies, rondtoer, skryf, sing, skep, kreatief bly en duisend ander veranderlikes, steeds jouself te bly.

Eerlik, ontbloot… net Edrien.”

Edrien nooi gehore uit om vir ‘n oomblik in haar wêreld te kom kuier.
“Ek belowe nie dat jy aan die einde van “Ontbloot” enigsins my as mens sal verstaan nie, ek belowe net ‘n kykie in die wêreld wat ek meestal my eie noem. Ons gaan sing en lag en huil en daarna bietjie wyn drink”

Ontbloot is ‘n solo-vertoning met Edrien Erasmus en klavier begeleiding deur Chanie Jonker, wat bestaan uit tientalle oorspronklike liedjies, verskeie oorspronklike komiese stukke asook ‘n kabaretnommer of twee. Die regie word behartig deur Cobus Venter.

Die kombinasie van komedie, musiek, kabaret, klavier en sang is die perfekte resep vir “ontbloting”, soos duidelik ervaar deur die mense wat hul piekniekmandjies gepak het en die aand se vertoning geniet het.