Thabazimbi Sakekamer het Saterdag 15 Oktober die tweede jaarlikse Oktoberfees aangebied. Net soos met die vorige fees is geleentheid aan Craft bierbrouerye gebied om hul verskillende soorte bier aan die feesgangers voor te stel.
Kosstalletjies het gesorg dat daar genoeg Duitse disse op die spyskaart was wat met die bier afgesluk kon word, terwyl Die Duitse orkes en sangers vir heerlike vermaak gesorg het.
Vir die kinders was daar ’n pretrit in “bierblik” waentjies wat deur ’n trekker getrek is, asook ’n waterwurm wat vir lafenis op die warm dag gesorg het.
Vir die feesgangers was daar dan ook die sterkman kompetisie waar manne maar in die hitte en droë grond sake met mekaar soos toutrek uitgespook het.
Die Vintage motorklub van Pretoria, het saam met hul plaaslike lede, hulle mooi ou karre vir die mense kom wys.
Alhoewel almal van die hitte gesweet het, is daar lekker gekuier terwyl hulle aan die groot verskeidenheid van Craft bier wat beskikbaar was geproe het.
Die hitte was die moeite werd want welkome reën het sedert Woensdag oor die hele Thabazimbi distrik uitgesak. Teen Donderdagmiddag is reeds sowat 30mm aangeteken.
Brauhaus am Damme van Rustenburg was ook daar met ‘n paar van hul populêre biere. Dit was veral hulle suurlemoen bier wat die meeste aftrekking gekry het. Op die foto is die mense van Brau haus am Damme. Hulle is op die foto van links: Imla Pape, Du Preez Conradie en Gericke Conradie.
Brauhaus am Damme se stalletjie was deurentyd baie besig. Indien jy dalk in Rustenburg te lande kom, is dit beslis die moeite werd om hul Brauhaus langs die Olifantsnekdam te besoek. Besoek gerus die restaurant met sy geurige disse, of sit buite op die stoep en geniet die uitsig oor die dam terwyl jy ‘n draft van hul heerlike bier wegslaan.
Verskillende tipe graan en mout hops daarby, sorg vir die verskillende kleure en smaak van die Craft bier.
Chameleon Brewhouse, wat verlede jaar ook hul bier vanaf Harties na die Oktoberfees saamgebring het, was vanjaar weereens daar om die mense se dors te verlig. Op die foto is Amanda en Ruaan van den Berg, eienaars van Chameleon Brewhouse.
Die kinders was nie verveeld nie. In die waentjies het die kinders die hele skouterrein platgery.
Die water glybaan en spring kastele het die kinders goed besig gehou.
Die Duitse orkes het deurentyd lekker musiek gespeel met so nou en dan ‘n “prost” wat die bier lekker laat vloei het.
Die sterk manne het hulle kragte saam gesnoer in die sterkman kompetisie se toutrek.
Die wenners van die toutrek kompetisie was die Sakekamer span.
Die ou motors het groot belangstelling gelok. In die voorgrond is ‘n Borgward Isabella uit die vyftiger-sestiger jare en langs hom ‘n Chevrolet Corvette van Piet Pieterse van Thabazimbi.
Nog twee voertuie van Piet Pieterse wat uitgestal is was hierdie AC Cobra en Opel GT.
In die koelte van die afdak en onder die bome kon feesgangers rustig saam kuier.
Dit het lekker loslit geraak op die verhoog, veral toe die Duitse sangers hulle kragte by die Umpha orkes ingegooi het.
Deelnemers aan die “Hunger Games” moes vyf hamburgers verorber en daarmee saam 2 liter koeldrank afsluk. Op die foto probeer die manne hard om by die teiken uit te kom. Foto’s: Michell Loubser sel 083 7410116