Papierkoerante op die rak

commentDat papierkoerante beslis een dag en, gouer as wat ons dink, iets soos ’n faksmasjien wees wat nou eenkant op die rak staan waar dit plek gemaak het vir die rekenaar en drukker wat kommunikasie soveel vergemaklik het met e-pos en nuusverspreiding deur die internet. Van hierdie tegnologie het ons nie eens gedroom nie op die stadium toe faksmasjiene die rol van teledrukkers oorgeneem het.

Steeds neem ons swaar afskeid van die gedrukte papierkoerant en besighede is veral traag om die digitale media te betree, veral ten opsigte van advertensies. Tog luister hulle gereeld nuus oor die radio en TV asook die advertensies wat deur hierdie media versprei word.

Hierdie advertensies is baie duur, nie net as gevolg van die voorbereiding van die spesifiek advertensie nie, maar ook omdat tyd ’n groot rol speel. Hoe langer die advertensie, hoe duurder. Dan moet dit ’n paar keer per dag, week of maand uitgesaai word om tot die luisteraar deur te dring. Hierdie manier van adverteer is dus vir die kleinsakesektor op die platteland nie ’n proposisie nie.

Die drukproses is ’n duur proses. Buiten dit het die swak groei en die verskillende vorme van druk wat  deur die regering kragtens belaglike arbeidswetgewing, werkreservering, swart bemagtiging en die swak ekonomie veroorsaak dat kleinsakemanne eerder hul personeel verminder inplaas daarvan om te help met werkskepping, iets wat die land dringend nodig het om die ekonomie weer op te bou.

Bogenoemde is presies die rede dat Kwêvoël nie meer ’n papierkoerant is nie.

Die een groot voordeel hiervan is dat jy nie tot Sondag hoef te wag voordat jy die koerant  kan lees nie.

Kinders en mense in hul middeljare beskik in die meeste gevalle slimfone waarop die koerant gelees kan word sodra dit op die internet gelaai word. Ongelukkig val die ouer geslag mense, maar ook nie almal nie, nie oor selfone of ’n rekenaar om die koerant af te laai nie. Ongelukkig kan daar nie net ’n paar gedruk word om in hierdie behoefte te voldoen nie.

Dit stop jou as gebruiker nie om die koerant op ’n geheuestafie te laai en op ’n A3 grootte kleurdrukker by die plekke soos Postnet uit te druk nie. Dan kan jy dit vir Ouma of Oupa gee om te lees.

Ons moet maar vrede daarmee maak dat ons na 18 jaar van ANC bewind ’n verarmde nasie is. Swart en wit ingesluit. Met ’n groeikoers wat aan zero grens, sal ons almal, verbruikers en besighede moet besef dat ons alternatiewe bronne van inkomste moet kyk.

Kwêvoël is deur hierdie omstandighede gedwing om slegs in digitale vorm beskikbaar te wees. Aangesien daar van alle media verwag word om hul nuus gratis te lewer, kan geen media bestaan as daar nie ondersteuning in die vorm van advertensies is nie. Die adverteerder kan op hierdie manier meer mense bereik. Sy advertensie is reeds in die teikengroep se hande sodra daardie persoon sy slimfoon of rekenaar aanskakel.

Navorsing het ook getoon dat die beleid om gratis toegang tot ’n beperkte aantal berigte te gee en ’n fooi gehef word om die res van die koerant te lees, eenvoudig nie haalbaar is nie. Die leser lees die paar gratis berigte en sit nie gereed met sy kredietkaart om die hele koerant te lees nie.

Selfs Willem Jordaan, ’n  man wat reeds grys en rubriekskrywer is,  in Beeld van Woensdag 4 Mei skryf, dat hy, net soos sommige ander mense, die stadige dood van die papierkoerant betreur. Hy wil nie graag hê dit moet gebeur nie, maar sy eie verstand sê vir hom dat hy die werklikheid moet aanvaar dat digitale nuus ’n moet is, nieteenstaande die feit dat sy hart anders neig. Dit is nou iemand wat as klein knapie, soos hyself sê, nie kon wag dat die Volksblad, toe dit nog ’n middag uitgawe was, afgelewer word nie en dit daarna op sy knieë op die vloer oopmaak en dit van hoek tot kant lees. Soos hy verder noem is die papierkoerant soos die wiel is: Sedert dit uitgevind is kon niemand nog hierop verbeter nie.

Ongelukkig leef ons nie in die dae van toe die wiel uitgevind is nie, maar in ’n tyd waar nuwe tegnologie byna daagliks tot die bestaande tegnologie gevoeg word.

Om te help dat die plaaslike nuus u steeds bereik, ondersteun die adverteerders en moedig ander besighede aan om ook hulle ware en dienste digitaal aan jou, die kliënt te lewer. Dit is die enigste manier om te verseker dat die digitale uitgawe nie meer beskikbaar is om die plaaslike nuus te lees nie. Dan is daar geen nuus!

Die groot voordeel is dat die advertensiekoste met tussen een derde tot ’n kwart van die gedrukte uitgawe beloop. Jy as leser kry dan steeds die voordeel dat jy jou nuus gratis kry.