HFM wintersport skop nwu-reeks af

Die truie is Vrydagaand (8 April) oorhandig aan die eerstespan.
Die truie is Vrydagaand (8 April) oorhandig aan die eerstespan.

THABAZIMBI – Die afgelope naweek het die spanne van Frikkie Meyer in die NWU-reeks teen Oos-Moot, ‘n gedugte makroskool van Pretoria, op hul tuisveld deelgeneem. Die leerlingtal en gepaardgaande diepte en talent reflekteer in die uitslae.

Die netbalspanne van HFM kon in ‘n opdraande stryd nie hul opponente klop nie, maar het nietemin met durf en daad gekompeteer. Die ligpunt was die tweede netbalspan wat hul wedstryd wen 22 – 12. Met die rugby het dit beter gegaan as laasjaar en dit is veral die junior spanne wat goed presteer. Beide o/14-spanne wen hul wedstryde ( A-span 26 – 24; B-span 24 -7), en so ook die o/15 A-span (24 – 21) en die o/16 A-span (15 – 10). Met die senior spanne gaan dit nie so goed nie en al vier spanne verloor. Die Eerstespan speel egter goeie, berekende rugby en ten spyte van Chriszaan Strauss se skopskoen wat HFM in die prentjie hou, verloor hul 18 – 22. Hierdie is die beste telling wat enige opponent vanjaar nog teen Oos-Moot se Eerstes kon aanteken. Die kersie op die wintersport koek is beslis die goeie prestasie van die hokkiespanne. Die hokkie bokkies wen 5 wedstryde, speel 1 gelykop en verloor twee. Die junior spanne vaar goed met die 14 A’s wat gelykop speel 1 – 1, die B-span wen 2 – 0. Die o/15-spanne wen beide wedstryde, A-span 3 – 1 en B-span 2 – 1. Die o/16-spanne moes egter beide die knie buig voor die Oos-Moters, maar die senior spanne behaal goeie oorwinnings: die Tweedes wen 1 – 0 en ons vlagskip, die Eerstes, behaal ‘n puik 3 – 1 oorwinning.

HFM se volgende wintersportbyeenkoms vind op Vrydag, 15 April, plaas op die velde van die Hoërskool Ellisras. Wedstryde skop om 14:00 af en hierdie derby beloof om weer, soos in die verlede, heelwat hoogtepunte op te lewer.