Oud-Leraar van Thabazimbi op plaas vermoor

Moord
THABAZIMBI – ‘n Oud-leraar van die Hervormde Kerk Vliegepoort-Gemeente in Thabazimbi, dr Steyn Steenekamp, se lyk is op sy plasie in die Mooinooi-omgewing, op Sondag, 31 Januarie 2016 ontdek. Na verneem word was sy hande en voete vasgebind en hy was reeds ‘n paar dae dood. Sy voertuig (‘n wit bakkie) is as vermis aangemeld. Dr Steenekamp sou die afgelope week 76 geword het.
Dr Steenekamp was gedurende die laat sestiger tot vroeë sewentigerjare in bediening by Vliegepoort gemeente waar sy eggenote ook as orrelis in die kerk die begeleiding waargeneem het.
Na die afsterwe van sy eggenote, Dia, het hy in die huwelik getree met mev Bets Botha met wie hy vir die afgelope ses jaar getroud was. Die egpaar het in Pretoria gewoon. Sy eggenote het hom verlede week Maandag laas gesien toe hy uit is na hul plasie by Mooinooi waar hy ‘n botteleer aanleg bedryf het waar hy uit ‘n natuurlike waterbron die bottels gevul en aan verskeie restaurante verskaf het.
Volgens die polisie was hy reeds ‘n paar dae dood voordat sy lyk gevind is.
Na die moord het sy eggenote nie moed opgegee nie en met die hulp van haar stiefseuns en die sosiale media het hulle op die adresse van die vermiste werkers afgekom.
Op grond van hierdie inligting het die polisie twee mans in Fochville vasgetrek in verband met die moord. Beide is twee werknemers van dr Steenkamp, wat hy nadat hy vir hulle jammer gekry het, werk aangebied het aangesien hulle werkloos was.
Dr Steenekamp, opgelei as predikant en ook in die sosiale wetenskappe, het die bediening jare gelede verlaat en voor 1994 by die RGN (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing) gewerk. Daarna was hy een van die wetenskaplikes wat navorsing vir die destydse Volkstaatraad gedoen het.